Die Weg

 

Wees nie bevrees nie ...... want jy is myne

Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland...” - Jesaja 43:1-4; 53-vertaling.

Die lewe het 'n manier om skielik, op een slag, 'n klomp probleme in ons skoot te gooi. Dan voel jy verlore en selfs bedreig. Dit is amper asof jy 'n stukkie dryfhout in die groot oseaan van die lewe is. Dit voel of groot golwe oor jou breek, of die waters jou in alle rigtings rondslinger, of jy geen beheer het oor jou lewe nie. Ander kere voel jy of jy deur vuur gaan. Jy slaan wanhopig na die vlamme wat jou skroei, maar vind dat jy dit nie kan blus nie. Vir jou voel dit of die ellendes net geen end kry nie.

As die lewe daarbuite een te veel raak vir jou, is mens geneig om 'n muur rondom jou te bou. Jy wil in jou dop kruip en die oplossings vir jou probleme in jouself begin soek.

Sommige mense probeer hul probleme ontvlug en dan soek hulle ontvlugting in dinge soos drank en dwelms. Net om later te vind dat hulle vir hulself oneindig groter probleme, ja, byna onoorkomelike probleme geskep het.

Een of ander tyd kom 'n mens agter dat die antwoord op jou probleme nie in jouself geleë is nie. Die antwoord moet iewers buite jouself gesoek word.

Maar waar?

Jy voel soos 'n wag wat iewers in die nag 'n plek moet bewaak. Alles is stil en pikdonker. Dan hoor jy skielik 'n geluid. Daar is voetstappe. Daar is iemand net buite die kring van jou gesigsveld. Wie is dit? Vriend of vyand?

Dan kom die Stem tot jou: “Wees nie bevrees nie. Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is myne! Jy is kosbaar in my oë; hooggeag. En Ek het jou lief!

Daardie Stem ken ons almal. Ons hoor Hom in die swartste lewensnag as ons probeer om in eie krag te waak. Daardie Stem spreek tot ons uit elke bladsy van die Bybel. Hy het Homself van kleins af aan ons geopenbaar. Hy het ons lankal reeds by die Naam geroep en vir ons gesê: “Jy is Myne! Ek wil vir jou 'n God wees.

Toe Hy sy Seun na die aarde gestuur het, het Hy baie naby aan ons gekom. Nou is Hy nie meer 'n God wat daar vér, eenkant, is nie. Nee, Hy is IMMANUEL, God met ons. Ons kan met vrymoedigheid met Hom praat, want ons weet dat Hy sal verstaan. Hy het ook eensaamheid en pyn, versoekings en ellende geken.

Ja, Hy het selfs deur die dal van doodskaduwee gegaan - vir ons! En Hy het vir ons die dood oorwin, sodat ons triomfantelik saam met Paulus kan jubel : “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?

Nou besef elkeen van ons : Ek is nie meer 'n stukkie dryfhout wat doelloos ronddobber op die lewensee nie. Ek is veilig, stewig vas in die Hand van my Heer en my Herder. Hy lei my, selfs in die swartste nag. En al verstaan ek nie altyd die pad waarop Hy my lei nie, weet ek: Sy Wil is tot my beswil.

Hierdie wete, en hierdie wete alleen, bring rus in tye van vrees en beproewinge.

Gebed: Ons Vader in die hemel, ons buig vandag voor U neer. Dankie dat U liefde en genade altyd groter is as ons beproewinge. Ons verdien dit sekerlik nie. Dankie dat ons weet dat ons nie hoef te vrees nie, dat U ons by die naam geroep het, dat ons deur die geloof in Jesus Christus aan U behoort. Dankie dat ons daarom hierdie dag, ja, elke dag van ons lewens, in U Hand kan plaas. Amen.

Ds WJ Bezuidenhout in Skrifflitse, onder redaksie van prof JJ Mulder, dr LM le Roux en dr SJ Eloff.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css