Die Weg

 

Sondevergifnis

En toe hulle vanweë die skare nie naby Hom kon kom nie, maak hulle die dak oop waar Hy was, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die bed waar die verlamde op lê, laat afsak. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe!” - Markus 2:4-5 (53-vertaling).

Die mense drom rondom die Here Jesus saam. Almal wil Hom graag sien en hoor. En veral die tekens wat Hy doen, trek die menigte. Hy maak mense gesond. Blindes sien en dowes hoor. Melaatses word gereinig en lammes huppel.

Hy is op die oomblik in Kapernaüm. En, soos altyd, stroom die menigte na Hom toe. Die huis is vol. Niemand kan eers naby die deur kom nie. Toe kom daar vier manne aan met 'n draagbaar waarop 'n verlamde jongman lê. Hulle kon nie die huis binnekom nie. Dit is tog vreemd dat die ander mense nie vir hulle pad gemaak het nie. Ja, hier sien ons duidelik: Mense kan selfs die Here Jesus verdring en nog teenoor ander se nood onbetrokke staan en selfsugtig bly voortleef!

Die geloof is egter vindingryk. Die manne wil hulle vriend tog baie graag help. Hulle dra hom die buite trap op tot bo-op die plat dak van die huis. Daarop begin hulle die dakteëls of stene verwyder. Eindelik is die opening in die dak groot genoeg en hier daal die verlamde man neer voor die voete van Jesus.

Die Here Jesus sien lankal wat gaande is. Hy merk die vier jong vriende se ywer en Hy sien die nood van die verlamde man, ook sy begeerte om gesond te word.

En toe Jesus hulle geloof sien, se Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe.

Dit is tog vreemd. Die man word na die Here toe gedra omdat hy verlam is. Sy nood is sy siekte. Hy smag na gesondheid. Hy hoop dat die Here Jesus sou sê: “Jy is gesond. Staan op en loop!” Waarom begin die Here nou om te praat oor sy sonde? Sou dit wees omdat sy siekte straf op sy sonde was? Die Jode het trouens oor die algemeen gedink dat groot siekte die straf op een of ander groot sonde is. (Dat Jesus dit egter nie so sien nie, lees ons duidelik in Joh 9:1-3.)

Nes die verlamde man en sy vriende, sien ook ons die dinge dikwels verkeerd. Ons sien siekte en aardse lyding as ons grootste nood. Jesus stel egter die verhouding reg. Die man en sy vriende glo in Hom. Hulle kom na Hom toe. Dit is die hoofsaak. Kom maar gerus met elke soort nood of probleem na die Here toe. Gelukkig bring jy dan jou grootste nood – jou sonde - saam na die Here toe. En jy mag soms uit jou aardse nood verlos word, en soms nie. Maar een ding is seker: jy word altyd van jou sonde-nood verlos, wanneer jy in ware berou na Jesus toe kom.

Ons kan sê dat die Here bly en gelukkig is wanneer ons die oë na Hom toe opslaan. Al is dit maar net “S.O.S. !” - die noodsein van 'n mens in nood. En dan doen Hy die noodsaaklikste eerste. Ons sonde is ons grootste nood. Dit moet eerste weg. Ons kan voor Hom verskyn - met sondes en al - omdat die Here Jesus vir ons sondeskuld geslag is en vir ons intree by die Vader. In sy bloed is ons sondes voor God bedek. Daarom nader ons deur Hom - die Lam van God. Ons eerste gebed behoort te wees: “O God, wees my, sondaar, genadig!

Maar wat beteken dit dat jou sondes vergewe is? Die Skrif sê in Jer 31:34: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sondes nie meer dink nie.

Om Christus ontwil “vergeet” God ons sonde. Hy dink nooit meer daaraan nie. Doen ons dieselfde met ander wat teen ons gesondig het?

Ds MJ Booyens in Skrifflitse, onder redaksie van prof JJ Mulder, dr LM le Roux en dr SJ Eloff.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css