Die Weg

 

Om gereed te wees vir wat wag

“Maak jou klaar om jou God te ontmoet” - Amos 4:12 (53-vertaling).

Hierdie woorde is algemeen bekend en word meermale gehoor wanneer iemand die dood in die oë staar. Dit is seker raadsaam dat ons dit ter harte neem wanneer ons gesond is, want op ons begrafnis sal ons dit nie hoor nie. Dit is die wekroep van die Almagtige aan sy slapende volk wat alles behalwe gereed is om Hom te ontmoet. Elkeen van ons sal die lewende God ontmoet, en as ons Hom nie leer ken as ons Redder nie, sal ons Hom moet ontmoet as ons Regter.

Die hele lewe moet gesien word as 'n tyd van gereedmaak, en wel gereedmaak vir die eindelose ewigheid. As iemand op reis gaan, maak hy al sy besigheid reg en pak sy klere in, sodat wanneer dit tyd is om te vertrek, hy betyds sal wees. So moet die reisiger na die ewigheid homself in gereedheid bring, nie alleen vir die laaste lang reis oor die doodsjordaan na die plek van rus en vrede nie, maar ook na die oordeel wat ewigdurend is. Laat ons ons lewe gedurig sien as 'n voorbereiding, as deel van die ewigheid, as 'n leerskool waarin ons die ABC van die koninkryk van God moet leer om ná hierdie lewe alles ten volle te ken en te verstaan.

Daardie gereedmaak is om God te ontmoet. Ons moet die Regter van die ganse heelal tegemoet gaan. En van daardie ontmoeting hang alles af - ons wel of ons wee. 'n Mens berei homself deeglik voor wanneer hy 'n hooggeplaaste gaan ontmoet. Sal dit ons nie aanspoor om hier op aarde met groot sorgvuldigheid en deeglikheid die nodige voorsorgmaatreëls te tref met die oog op hierdie ontmoeting wat op ons wag nie?

Hoe aangenaam is dit nie om 'n goeie vriend in 'n verre vreemde land te ontmoet nie. Aan die ander kant, hoe verleë voel ons soms as ons iemand moet ontmoet wie se naam ons vergeet het, of met wie ons nie op 'n goeie voet gelewe het nie! In die land aan die oorkant van die graf sal ons geen aardse vriende ontmoet voordat ons nie God ontmoet het nie. Dit sal 'n eensame ontmoeting wees en skrikwekkend as ons nie gereedgemaak het nie. Aan die ander kant sal Hy ons veilig inlei na die wonings waarheen so vele dierbares ons al vooruitgegaan het, mits ons Hom hier leer ken het.

Uit: Elke dag met God, deur prof GBA Gerdener.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css