Die Weg

 

Jou roeping vandag

'Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou. Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”' - Matteus 27:33-37 (83-vertaling).

Jesus se kruisdood is die vervulling van die Ou Testament. Psalm 22 beskryf presies wat met Jesus in Matteus 27 gebeur - sy kruisiging, sy klere wat verdeel word deur te loot, die bespotting en die Godverlatenheid.

Bokant sy kop hang die aanklag teen Hom: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Hierdie aanklag is baie ironies, want dit waarvoor Hy aangekla word, is die waarheid! Hy is die Koning van die Jode, en ook die Koning van die hele heelal.

Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” Die sondige wêreld glo dat jy jouself moet laat geld. Hulle dink nie dat Jesus kan oorwin deur eers te sterf nie.

Ook vandag is daar mense wat so dink. Hulle wil mense beheer met mag. Hulle wil mense verander met mag. Hulle wil ander red deur eers hulleself te red.

Jesus kon van die kruis afgekom en die Romeine weggevee het. Maar dit sou ons niks gehelp het nie. Ons sou dan nog steeds in die mag van die sonde gewees het. Daar sou net nuwe politieke onderdrukking gekom het. Want politieke onderdrukking, siekte, pyn, hartseer en die dood is alles gevolge van die sonde.

Die oorsaak van al die probleme in hierdie wêreld is die sonde self. Jesus het gekom om die sonde met wortel en tak uit te roei. Om dit te doen, moes Hy verneder word en die straf op die sonde dra. Hy is die Koning wat oorwin het deur te sterf en uit die dood op te staan.

Omdat Jesus oorwin het, kan ons diensbaar wees. Ons het nie nodig om onsself te bewys of te laat geld nie. Met die evangelie red en verander God mense, nie met wêreldse mag nie. God het aan ons 'n nuwe lewe gegee - 'n lewe waarin ons die evangelie leef en verkondig. Dit is jou roeping vandag!

Ds Heinrich Zwemstra (Almanak 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css