Die Weg

 

Is alles werklik tevergeefs?

Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer. Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het. Woorde vervaag mettertyd, en 'n mens kry nie klaar met praat nie. Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie; die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie. Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie. Kan jy van iets sê dit is nuut? Nee, dit was lankal daar, lank voor ons tyd. Wat verby is, word vergeet, en ook wat later kom, sal vergeet word deur dié wat daarna kom.” - Prediker 1:2-11.

Die Prediker se uitkyk op die lewe is maar swart. Soos sommige mense van vandag ook. Alles is hopeloos. Hoekom sê die Prediker dat alles tot niks kom? Hy sien dat mense werk. Geslagte kom en gaan en wat vroeër gebeur het, gebeur vandag en môre weer. Dit is dieselfde in die natuur. Die son kom op, gaan onder, kom weer op. Al die strome loop in die see - en die see word nie vol nie.

Maar nie almal sal met die Prediker saamstem nie. Jongmense vol ideale wil die toekoms gryp en 'n suksesvolle loopbaan nastreef. Miskien is dit net die ouer geslag wat al beleef het van wat die Prediker sê. Wat weet dat daar eindelose herhaling in alles is ... en dat daar niks nuut onder die son is nie.

Daar kan gesê word dat die Prediker die lewe eensydig sien. Maar hy wil ons duidelik wys op 'n stuk waarheid: die nietigheid van die mens en sy werke!

Baie later in die Bybel se Paulus dat die Prediker reg is. Die skepping is aan die nietigheid onderworpe. Hy weet dat die skepping, wat die mens insluit, aan die vergaan is. Paulus en die Prediker stem saam.

Paulus sien wel 'n ander kant. Op grond van Jesus Christus se dood, opstanding en oorwinning aan die kruis praat hy van “pyne van verwagting” (Rom 8:20-24). Alles is tog nie tevergeefs nie! Die hopeloosheid sal deurbreek word. Hy wat op die troon sit, maak alles nuut (Op 21:5).

Daarom bid ons: “Hou tog die werk van ons hande in stand, o Here!” (Ps. 90: 17). Dan is alles tog nie tevergeefs nie!

Ds JF Mouton (Almanak 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css