Die Weg

 

Angs en vrees: vermyding of oorwinning

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees” - 1 Johannes 4:18.

Behalwe as jy aan een of ander geestesafwyking ly, sal jy meermale in jou lewe angs of vrees ondervind. Angs en vrees is sinonieme van mekaar. Vrees vloei voort uit 'n gevoel van onmag. 'n Gevoel dat jy nie volkome beheer het oor jou lewe of die dinge wat rondom jou gebeur nie. Jy het angs oor die lewe, angs vir siekte en dood, jy vrees rowers en moordenaars, jy vrees dat jy sonder 'n inkomste of heenkome gelaat kan word ......

Ons lees op vele plekke in die Bybel van angs en vrees. Van mense wat angsbevange geraak het. Jesaja sê: “My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ‘n verskrikking” (Jes 21:4; 53-vertaling). Self die Here Jesus was nie vrygestel van angs nie. In Markus 14:33-34 lees ons: 'Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”' Lukas 22:44 beskryf dit in nog erger woorde: “Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

Baie mense probeer om angs te vermy. Hulle soek voortdurend ontvlugting in allerlei hulpmiddels wat die menslike sinne kan verdoof, of dit nou dwelms, ekstreme vermaak, sport of wat ook al is. Daarin probeer hulle hul rus vind. Maar dit is net korttermyn ontvlugting, want môre het jy net meer daarvan nodig, en die volgende dag nog meer.

Die Here Jesus het as volkome mens, voordat Hy die verskriklike kruisdood gesterf en Hy verheerlik is, self die ergste vorm van angs deurgemaak. Daar in Getsemane het sy sweet soos bloeddruppels op die grond geval. Hy het geweet wat op Hom wag en daarom het Hy Homself in daardie angsvolle ure voor sy gevangeneming en veroordeling, tot die Vader gewend. Van die Vader het Hy weer rus en krag gekry om sy dienswerk op die aarde te voltooi.

Ons oorwinning oor ons eie vrees en angs lê in die woorde van Jesus Christus wat gesê het: “In die wêreld sal julle verdrukking hê (angs ondervind); maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Joh 16:33 OAV).

Die verrassende van die Bybelse boodskap is dit: jy vind die teendeel van vrees en angs in die liefde. Johannes sê: “Daar is geen vrees (en dan ook geen angs) in die liefde nie” (1Joh 4:18).

Hulle wat aan Jesus Christus vashou en weet dat die Vader wat alles geskape het, hul liefhet, húlle bemeester hul angste en vrese. Hulle verloor nie hul vrees omdat daar geen magte meer is wat hulle bedreig nie, maar omdat hierdie magte geen mag meer oor hulle het nie. 'n Mens kan dit soos volg verstaan: wanneer ek my pa se hand neem en saam met hom loop het ek geen angs meer nie, selfs al loop ons deur die donkerste bos.

Wie angs het en Christus ken, mag verseker wees: ek is nie alleen met my angs nie, want Hy het dit ook deurstaan. Daarmee ontstaan 'n totaal nuwe blik op die toekoms: daar is nie meer voor my 'n vae, mistige landskap met moontlike donker gevare wat vir my lê en loer nie. Nee, dit is heel anders: ons weet dalk nie wat kom nie, maar ons weet Wie met ons is.

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css