Die Weg

 

Die Pax Romana of die Jesus-vrede?

Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie. Julle het mos gehoor dat Ek weggaan.” - Johannes 14:27-28.

Sonde het darem groot skade aangerig. Dit het die mens nie net van God nie, maar ook van mekaar vervreem. Die Seun van God se versoeningsoffer aan die kruis het versoening gebring sodat die mens weer in vrede kon leef. Vrede met God en vrede met jouself en ook vrede met jou medemens.

Die Pax Romana (vrede in die Romeinse Ryk - in die tyd van Jesus) was bereik en is in stand gehou deur die mag van die swaard. Die Jesus-vrede, as vrug van verlossing en sekuriteit met betrekking tot die hede en toekoms, is deur 'n Vreedsame en Onskuldige aan 'n kruishout verdien. Daar het Hy die Bose 'n nekslag toegedien en vir gelowiges die vrede verkry wat alle verstand oortref omdat ons dit nie kan uitdink nie! (Fil 4:7).

Deur in vrede te leef, word die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees in jou lewe sigbaar.

Dit is seker net volledig menslik dat die dissipels al teen hierdie tyd oorgekook het van stres. Dit beteken allermins dat stres net negatief gesien moet word. O nee, sonder gesonde en noodsaaklike stres kan die lewe vervelig word en eindig jy loshande eerste in die kategorie van onder-prestasie.

Te veel verkeerde stres kan egter vernietigend wees. Die dissipels word uit hulle gemaksone geruk. In plaas van 'n daaglikse plesiervaart saam met Jesus, waar liefde, blydskap en vrede hulle besig hou, bedreig 'n onseker toekoms hulle nou as Jesus weggaan (Joh 14:28-29). Om net aan die verlies te dink, is skokkend. Te veel serotonien, endorfien, dopamien en kortisol word nou afgeskei.

Petrus, alles wat jy doen, hoef nie perfek te wees nie, solank dit net 'n sukses is! Moenie dat vrees of selfhandhawing aan jou en jou dissipels se getuienis vorentoe knaag nie.

Jesus se vrede en liefde verdryf sulke vrees en angs. Nie net op die alledaagse gebied nie, maar ook met die oog op die wederkoms van die Here Jesus. Wat meer kan ons vra? Om nou reeds in vrede te mag leef, maar ook volle gemoedsrus en sekuriteit te hê oor die toekoms!

Gebed: Dankie, Here, dat U die hef in u hand het, ook as ek myself vernietig deur onnodige stres. Amen.

Uit: Wie My volg .... deur Jan du Rand. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css