Die Weg

 

Nuwe begin

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” - Klaagliedere 3:18-23.

Het jy al in jou lewe gewens dat jy weer nuut, ja weer oor kan begin? ‘n Nuwe begin is ‘n nuwe geleentheid vol vreugde en uitdagings. In Klaagliedere 3:18-23 verwoord die skrywer die wonder om nuut te begin na ‘n tyd van beproewings en swaarkry. Danksy die Here, sê die skrywer, het hy nie omgekom nie, want daar is geen einde aan die Here se barmhartighede nie. In sy lewe jubel hy dat God se barmhartighede elke môre nuut begin.

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo, word elke dag ‘n nuwe begin en ‘n nuwe geleentheid om oor bly te wees. Ons daaglikse bekering in Christus verseker ons dat God daagliks, ja van oomblik tot oomblik, nuut met ons begin. Sy genade is elke oggend van ons lewens opnuut vir ons beskikbaar en elke dag is sy getrouheid binne ons bereik. Dink net daaraan dat die Here se liefde en barmhartighede nooit deur ons uitgeput kan word nie.

Ons het almal een of ander tyd ‘n nuwe begin nodig. Na ‘n tyd van terugslae en hartseer verlang ons na ‘n nuwe begin waarin ons weer sal kan begin bou aan die positiewe in ons lewe. Soms verval ons in ‘n groef van sonde, perspektiefloosheid en vrees. Dan kom die Here en lei ons deur sy Woord en die Heilige Gees om op te staan en na Hom toe te gaan, om so in die Naam van Jesus Christus weer nuut te begin. Ja ook vir jou is daar ‘n nuwe begin waar jy dalk in sorge en sonde oud en vaal geword het. Die wat in Jesus Christus glo, ontvang weer die sekerheid dat Jesus alles nuut maak en weer en weer nuut sal maak tot met sy wederkoms, waar ons altyd in die vernuwende krag en genade van Jesus Christus sal kan lewe.

‘n Nuwe begin hou ook in dat jy net meer en meer van die Here se goeie guns en genade sal ontvang. Ja elke nuwe dag en elke nuwe begin in en deur Jesus Christus bring ons ook by hernuwing tot die besef van sy oorvloedige liefde en barmhartigheid. ‘n Nuwe begin in en deur Jesus Christus hou egter in dat ons sal bid om die vrylating van al die ou bagasie en die donkerte in ons. Dit is die aantreklike van Jesus Christus se uitnodiging vir almal wat vermoeid en belas is. Neem sy juk op julle. Sy juk is sag en sy las is lig. In 2 Korinthiërs 5:17 staan daar dat iemand wat in Christus is, ‘n nuwe skepsel is; die ou dinge het verbygegaan, kyk, deur die Here het alles nuut geword.

Ds Paul van den Berg

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css