Die Weg

 

Byt net vas, Ek kom terug na julle toe

Ek kom terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.” - Johannes 14:3.

Dit is deel van die menslike DNS om bang te wees. Bang vir die ekonomiese ineenstorting van die wêreldmarkte en ons eie; bang vir politieke boelies; bang vir siek-wees en die dood; bang vir skande en verontmensliking, soos oorlog; bang vir alleen-wees. Daarom die kragtige woord: “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou ... “ (]oh. 14:1).

Vrees of bang-wees is die tipiese beskrywing in die Bybel van 'n lewe in die sondige wêreld. Dit het al by Adam in die paradys begin toe hy aan God sê: “Ek was bang omdat ek sonder klere is” (Gen. 3:10).

Die mens se grootste vrees is waarskynlik vir die wederkoms van die Here Jesus. Waarom sou ons daarvoor bang wees? Dit is die finale oordeelsaankondiging. Daardie oordeel (Op 20) is slegs 'n openbare bekendmaking van God se oordeel. Voor die groot wit troon gaan dit net oor die uitslag van die oordeel! En verder se Johannes in 1 Johannes 4:18: “Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is.

Ek hoor die dissipels aan mekaar vra: En wat van ons as twee sleutelfigure soos Petrus en Judas gevou het? Jesus se weggaan kloof hulle binnestes oop. Vrees en kommer kan jou geloof lelik knou. In sulke krisisoomblikke is Jesus se gerusstelling soveel werd. Ontsteltenis en bangwees word slegs bekamp en oorwin deur te glo.

Hy kom terug by sy wederkoms (Joh 14:3). Hy is net 'n ruk weg om die kamers in die Vaderhuis gereed te kry. Dan kom Hy ons haal. Intussen moet ons Hom verwag met Geesdrif. In die “nuwe Jerusalem” is genoeg kamers vir al sy volgelinge. Ons is eenvoudig nie net ad hoc-mense nie, dit wil sê, uitgelewer aan 'n ontwrigte hede nie. Ons bestemming is om volmaak by God te wees. Dit is wat hemel beteken.

Wanneer voëls migreer in 'n V-formasie, vlieg die sterkste voël voor en die ander in sy glystroom. Met Jesus heel voor kan ons wat agterlangs inval, dit wil sê in sy glystroom, en deur geloof, ook ons bestemming bereik. Ons is nie meer bang vir sywinde of lugstrome op pad nie, want hulle is tydelik.

Gebed: Here Jesus met U vooraan en in u glystroom voel ek veilig. Amen.

Uit: Wie My volg .... deur Jan du Rand. - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) - www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css