Die Weg

 

Om weer nuut te word

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.” - Kolossense 3:3-4.

Julle behoort aan Christus”, skryf Paulus aan die Kolossense. “Julle behoort só aan Hom dat julle saam met hom gesterf het. Die ou mens met sy skuld wat in julle was, het niks meer te sê nie. Wat nou in julle woon, is die nuwe mens wat saam met Christus opgestaan het. Dit is waarvolgens julle moet leef en waarop julle jul aandag moet vestig. Wat ons hier op aarde beleef sal maar altyd moeilik en neerdrukkend bly. Maar dít het nie meer die laaste sê nie. Dít wat die laaste en die eintlike sê het, is die koninkryk van Christus en sy heerlikheid.”

Jy praat van heerlikheid”, antwoord die Kolossense. “Maar moet 'n mens nie baie meer daarvan sien nie? Kyk na ons lewens Paulus, met sy moeite, hartseer en pyn. Wat ons hier doen en ervaar, is tog veel meer ellende as heerlikheid.” - “Ja”, antwoord Paulus, “dit is so. Christus se heerlikheid is nog steeds verborge. Maar daar kom 'n dag dat sy heerlikheid die hemel en die aarde sal oordek. En dan sal dit vir julle duidelik word hoe God julle in hierdie lewe met sy liefde omarm het, en hoe dikwels Hy julle deur moeilike omstandighede gedra het.”

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek” - Kolossense 3:8.

"Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan.....” Ag, my liewe Paulus, as dit maar so maklik was! Hoe graag sou ek van al hierdie dinge soos woede, haat en nyd ontslae wou raak.  Maar elke keer as ek hierdie onkruid uit my lewe verwyder, laat hulle wortels agter wat opnuut begin groei. Dit is nie maklik om dit totaal uit te wis nie. En natuurlik sê jy ook dat dit nie maklik sal wees nie. In die brief aan die Romeine (Rom 7:23-25) beskryf jy jou eie moeite met die sonde en vestig jy my aandag op die Éen wat my regtig nuut kan maak, nl Jesus Christus.

In Jesus word ek 'n nuwe mens, en "moet ek my met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid." (Ef 4:24;53-vertaling). Dit gaan nie om kledingstukke wat ek elke dag moet verwissel nie, maar om 'n totaal nuwe uitrusting. Dit is om uit die heerskappy van die sonde uit te stap en in die heerskappy van Jesus in te stap. Dáár waar ek kan groei in die kennis van wat God wil hê. Maar ek is te swak om dit alleen te doen, en dus kom Christus self vir my tot hulp. En daarom, liewe Paulus, kan ek saam met jou sê: "dank God deur Jesus Christus, ons Here!"

Uit: Neukirchener Kalender 2005 (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css