Die Weg

 

Ons is nie die regter nie

In die tye waarin ons lewe, is dit vir ons moeilik om uitvoering te gee aan die woorde van die Here Jesus soos ons dit vind in Lukas 6:37: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.Max Lucado brei hierop uit in sy boek: In die greep van genade, met verwysing na die woorde van Paulus in Romeine 1 en 2. Ek haal dit hier aan:

In Romeine 1 konfronteer Paulus die hedoniste (denkrigting waarvolgens die menslike luste, genot en geluk die primêre en hoogste doel in die lewe is). In hoofstuk 2 is hy besig met 'n ander groep, die veroordelende moraliste, diegene wat 'n ander veroordeel (vers 1). Êrens tussen die diens aan die gesellinne en die kerkdiens is daar iemand wat sy vinger na 'n ander wys.

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel ... Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge” (Rom 2: 1 ).

Wie is hierdie persoon? Dit kan enigeen wees (mens, wie jy ook al is) wat sy eie opinie vooropstel oor God se genade. Enigeen wat God se genade afwater met sy eie vooroordeel. Hy is die verlore seun se oudste broer wat nie die feesmaal wou bywoon nie (Luk 15:11-32). Hy is die werker wat tien uur lank gewerk het en ontsteld is omdat die een wat net 'n uur lank gewerk het, dieselfde loon as hy ontvang (Matt 20:1-16). Hy is die foutvinderige broer wat behep is met sy broer se sondes en salig onbewus is van sy eie.

As jy dink jy kan ander veroordeel, het Paulus 'n ernstige vermaning vir jou. Dis nie jou werk om die regter se hamer vas te hou nie. “Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel” (Rom. 2:2).

Die sleutelwoord hier is veroordeel. Dis een ding om 'n opinie te hê. Dis heeltemal iets anders om 'n oordeel uit te spreek. Dis een ding om 'n oortuiging te hê; dis iets anders om 'n mens te vonnis. Dis een ding om die dade van 'n Jeffrey Dahmer (verkragter en reeksmoordenaar) afstootlik te vind (en ek doen dit). Dis heeltemal iets anders om te beweer dat ek beter is as hy (ek is nie) of dat hy buite die grense van God se genade is (niemand is nie).

Soos John Stott (1920-2011) skryf: “Romeine 2:1 sê nie vir ons dat ons nie kritiek moet lewer of ander vermaan nie. Dit verbied ons net om ander mense te veroordeel en te verdoem (wat ons as mense geen reg het om te doen nie), veral wanneer ons nalaat om onsself te veroordeel.”

Dis ons werk om die sonde te haat. Maar dis God se werk om met die sondaar af te reken. God het ons geroep om die boosheid te verag, maar Hy het ons nooit geroep om op die boosdoener neer te sien nie.

Maar o, hoe sal ons nie daarvan hou om dit te doen nie! Is daar enigiets lekkerder as om ander te oordeel? Daar is iets selfgenoegsaams en selfbevredigends daaraan om die toga aan te trek, agter die regbank in te skuif en die hamer op die bank te laat neerkom. "Skuldig!"

Buitendien is die veroordeling van ander die vinnige en maklike manier om goed te voel oor onsself. 'n Maklik bekombare hupstootjie vir ons ego. Ons staan langs al die Mussolini's en Hitlers en Dahmers van die wêreld en spog: “Kyk God, in vergelyking met hulle is ek nie te sleg nie.”

Maar dis die probleem. God vergelyk ons nie met hulle nie. Hulle is nie die standaard nie. God is. En vergeleke met Hom, redeneer Paulus, “... [is daar] nie een wat goed doen nie ... “ (Rom. 3:12).

Kan die honger mens die bedelaar aankla? Kan die sieke die kranke bespot? Kan die blinde die dowe veroordeel? Kan die sondaar die sondaar verdoem? Daar is maar net Een wat kan oordeel.....

(Einde van aanhaling)

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css