Die Weg

 

Uit vrye wil, gelei deur die Gees

'Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.” Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” - Johannes 6:65-69.

Vanweë Jesus se vermoë om die Skrifte uit te lê, en die feit dat Hy so vele wondertekens verrig het, het baie mense 'n emosionele opwelling ondervind en Jesus begin volg. Maar tog was hulle harte nie heeltemal met Hom nie. Want dan sê Hy dinge wat hierdie volgelinge van Hom nie wou hoor nie. Sy woorde was te hard, hulle het nie die werklike diepte daarvan verstaan nie (v 60) en daarom het baie van hulle Hom verlaat. Net die twaalf wat Hy uitgekies het, het by Hom gebly. Het alles wat Hy tot op daardie tyd gedoen het, dan klaaglik misluk? Nee, tog nie!

“Baie is geroep, maar min is uitverkies.” (Matt 22:14). Was hierdie dissipels wat Jesus verlaat het, werklik volgelinge, dit is, mense wat met hart en siel deel van Hom wou wees, of was dit net eenvoudig meelopers wat iets van Hom wou hê? Sy woorde skei volgelinge van meelopers. En Hy aanvaar, dat wanneer die emosionele opwinding verby is, mense Hom weer sou verlaat. Hy dwing niemand om Hom te volg nie. Hy roep na mense en Hy nooi hulle uit om Hom te volg. Maar Hy dwing niemand nie. As jy by Hom wil bly, is dit uit vrye wil omdat die Gees jou daartoe lei en nie omdat jy daartoe gedruk voel nie. Daarom kon Jesus dus ook die indringende vraag aan sy getroue dissipels vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?

Petrus se antwoord is soos 'n openbarende belydenis, 'n bekentenis: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”'

Saam met Petrus kan ons met die woorde van Koos du Plessis bely: “Elke afdraai paadjie ken ek, elke keer het ek verdwaal, elke keer het U my iewers kom haal.” U weg is die een wat lei na die Lewe. Dít is die enigste weg vir ons – gegryp en gelei deur u Gees. Amen.

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2010)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css