Die Weg

 

Om vry te kom van vrees en benoudheid

As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my.” - Psalm 138:7 (53-vertaling).

Ons hoor, sien en lees van groot benoudheid in die wêreld. En dit wil voorkom asof die nuwe jaar ook net meer onrustigheid in ons lewens gaan bring.

Benoudheid spruit meestal uit 'n gevoel van onsekerheid en magteloosheid teenoor iets wat onbekend en bedreigend is. Voeg dan nog eensaamheid daarby, dan kan dit deurdring tot diep in ons sielelewe.

Die Psalmdigter het ook eens in diepe benoudheid verkeer. Maar nou kyk hy met dankbaarheid terug hoe hy sy vrees kon oorwin. Ons weet nie werklik in watter nood hy verkeer het nie; ons kan wel in sy woorde die spanning aanvoel waaronder hy verkeer het. Dit gaan by hom dan nie oor die oorsaak van sy vrees en benoudheid nie, maar oor sy dankbaarheid vir dít wat hom bemoedig het en voorkom het dat hy sy kop verloor: die teenwoordigheid van God.

Ons weet dat as jy nie net op jouself aangewese is nie, daar twee belangrike skakels in die ketting van vrees is wat verbreek kan word: die eensaamheid en die gevolglike onmag teenoor alles wat jou bedreig. Dit is nie altyd nodig om die bedreigende omstandighede te probeer verander om oor jou verlammende vrees te kom nie. Dit is soms genoeg om net terug te staan en afstand te neem van dít wat die vrees veroorsaak. En jy kán dit doen as jy weet dat daar Iemand is wat jou hand vashou. Dan verander wanhoop in hoop en kan jy die HERE loof wat beheer het oor jou lewe.

Gebed: Help my, Here, om vry te kom van haat en angs. Leer my om U te vertrou dat alles goed sal gaan, selfs al kan ek nie nou sien hoe dit sal gebeur nie.

Vrede en vreugde word u toegewens vir die nuwe jaar wat voorlê!

-dw-

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css