Die Weg

 

Ons krag lê in die vrugte van die Gees

“Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie” - 2 Timoteus 3:5.

Dit is vir ons geen nuwe nuus wat Paulus hier aan Timoteus skryf nie. Paulus gee 'n lang lys wat verband hou met die goddeloosheid en die liefdeloosheid soos die eindtyd naderkom. Dit is groot woorde hierdie: selfsugtigheid, geldgierigheid, grootpraterigheid, verwaandheid, ongehoorsaamheid, ondankbaarheid, ongodsdienstigheid, liefdeloosheid, onversoenlikheid..... en nog baie meer. Maar die ergste is om 'n vroom gesig vir die mense voor te hou sonder om werklik op God te vertrou. Tog moet ons oppas dat ons nie mense oordeel nie, want dan is ons dalk self skynheilig!

Ons moet ons eie optrede maar self beoordeel: Hoe beïnvloed my handel en wandel ander mense? Vanwaar put ek my krag? Kan ek met eerlikheid sê dat ek 'n navolger is van Jesus Christus? Kan ek werklik sê dat ek tot die “gemeenskap van die heiliges” behoort in my besluite en optredes, of soek ek net my eie voordeel?

Die Heilige Gees is vir ons gegee vir ons saligheid! Hy moet ons lewens beheers sodat die lig van Jesus Christus op 'n geloofwaardige wyse in ons daaglikse lewe sigbaar word. En dit geskied deur die vrugte van die Gees, nl: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23). En die krag om dit uit te leef kom nie uit onsself nie, maar van Jesus Christus - die Bron van al ons krag!

Katrin Weideman in Neukirchener Kalender 2020 (aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css