Die Weg

 

Die mens as geestelike wese

Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks.” -  Prediker 5:10.

Daar is heelwat mense wat begeer om raakgesien en waardeer te word. Dié sulkes sal alles inspan om erkenning te kry, en in die meeste gevalle doen hulle dit deur rykdom te vergader. Deur te glo dat geld vir hulle aansien sal gee, maak hulle 'n fortuin bymekaar in die hoop dat dit die diep verlange en honger binne in hulle sal stil. Soos hulle rykdom vermeerder raak hulle al hoe meer ambisieus om groter dinge aan te pak, maar hul vrede en geluk neem nie toe nie.

'n Mens het 'n geestelike basis nodig as jy werklik vrede en vreugde uit die lewe wil put. Dit mag vir baie mense soos godsdienstige praatjies klink wat min of geen verband hou met die harde werklikheid van die lewe nie. Tog is dit heel logies as jy met jou gesonde verstand daaraan dink. Die mens is veral 'n geestelike wese en hy het die inspirasie en motiverende krag nodig wat net God kan lewer. Die sekulêre en materiële welvaart kan die menslike ego vir 'n tydjie 'n hupstoot gee, maar dit is slegs wanneer die geestelike waardes hul regmatige plek kry, dat die lewe sinvol word.

Hoe is dit moontlik om jouself in die harde werklikheid van die sekulêre lewe te laat geld en tog 'n geestelike lewe te lei? Die eerste en wesenlike beginsel is om in 'n persoonlike toewyding aan die Here Jesus Christus te leef, en bereidwillig om in alle opsigte aan Hom gehoorsaam te wees. Dit mag dalk nie altyd vir jou maklik wees in jou spesifieke omstandighede nie, maar beslis lonend. Daardeur sal jy vind hoe die honger en verlange diep binne jou gestil word.

Uit: Through the year with faith, deur  Arnold J Walker
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css