Die Weg

 

Ons weet nie meer nie

Ons is ingewerp in 'n tyd van onsekerheid. Geleidelik kom ons agter dat ons nie kan sê hoe die pandemie verder sal verloop nie. Hoe sal die gevreesde tweede vlaag wees? Al sulke vrae.

Wat wil hierdie ervaring van onsekerheid aan ons geloof doen? Ons kan gaan na die storie oor waar die geloof eintlik begin het: die roeping van Abram in Genesis 12: 1. 'Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”' Die Here sê nie watter land of roete nie. Eers op pad sal die Here wys waarheen. Dit word 'n trek van nagenoeg 800km deur onbekende streke.

Ons lewe gewoonlik met soveel as moontlik sekerheid. Ons verseker ons besittings en mediese dienste. As ek siek word, vra ek dat die dokter vir my sê wat ek kan verwag. Ons wil weet. Nou weet ons nie meer nie.

Nou kan ons ervaar wat ons geloof regtig beteken. Daar waar die geloof begin het, wys die Here vir ons wat geloof eintlik is. Dit is om jou bron van sekerheid in die eerste plek in die Here self te hê en in niks of niemand anders nie. Dis om sonder padkaart te reis deur 'n bakenlose landskap met net die Here as gids.

Dis om te kan sê: “Ek weet ek is op die regte pad, want ek weet nie waarheen dit lei nie.”

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css