Die Weg

 

Die wysheid van God

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.” - Jakobus 1:5-6.

Wonderlike nuus! God, wat volkome wys is, se wysheid is beskikbaar. Dit kan afgebid word. Elkeen word uitgenooi om wysheid te kom vra en God “sal dit aan hom gee” (Jak 1:5).

Hoekom bly ek dan elke dag dom foute maak? Hoekom so dikwels raadop? Bid ek nie genoeg of nie reg nie? Watter antwoord kan ek op my gebede verwag? As ek in die aand om wysheid bid sal ek dan die nag droom oor wat ek moet doen, of lê daar dalk die volgende môre 'n briefie met raad langs my bed?

Om wysheid te ontvang, se Jakobus, “moet 'n mens gelowig bid en nie twyfel nie” (Jak 1:6). Gelowig bid is bid in die seker wete dat Christus aan die kruis reeds alles verdien het wat ek nodig het om in die regte verhouding met God te lewe. Wie so bid, mag nie twyfel nie! Wat jy vra, is mos in Christus beskikbaar en geopenbaar! Vergeet dus van “dalk” droom, en “miskien” 'n briefie langs jou bed! Soek en vind antwoorde in die sekerheid van God se Woord!

In Jakobus hoef jy nie ver te soek nie. Net nadat God wysheid belowe, gee Hy dit: wysheid is om in die regte verhouding met God te lewe! (Jak 3:18). Meet van vandag af al jou planne en optrede hieraan. Maak hemelse wysheid deel van jou lewe. Bly bid dat jy deur die Heilige Gees die wysheid sal ontvang wat jou “sonder bybedoelings ... vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg” laat optree (Jak 3:17).

Leef jy só, dan leef jy wys en maak jy iets van God se volkome wysheid in hierdie wêreld sigbaar.

Dr WC Vergeer in: So bely en leef ons.....
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css