Die Weg

 

Lewe met vertroue

“Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.” - Psalm 36:10 (53-vertaling).

Ons wil so graag seker wees dat ons op ander se woorde kan staatmaak; dat ons hulle kan vertrou, veral mense in gesagsposisies. Vertroue is immers die spil waarom alles in die lewe behoort te draai. Daarom is dit elke keer traumaties as 'n mens se vertroue geskend word, veral deur mense wat die Naam van die Here gebruik om gesag aan hulle woorde te gee. 'n Mens staan verstom oor die vreugde wat hierdie mense daarin vind om vrye teuels aan die Bose te gee. Hulle het nie werklik vrees vir God nie. En wanneer dit vir ons lyk asof hierdie mense nie onder hulle wandade ly nie, en ook nie regtig hulle weë wil verander nie, help dit ons nie om maar te hoop dat hulle anders teenoor ons sal optree nie. Ons kan sulke mense nou maar eenmaal nie vertrou nie.

Maar wat staan ons te doen, want hulle is tog deel van ons lewens? Die Psalmdigter gee vir ons die antwoord: breek weg van die mense en soek jou skuiling by God. Daardeur ontdek jy hoe verhewe en sterk God is. Jy sal opnuut ervaar hoe betroubaar God is as bron vir jou eie lewenskrag. God se teenwoordigheid sal jou lewe verlig en jou die lewe in sy volle werklikheid laat sien. Jy wéét dat jy op God kan vertrou.

Vertroue in God is die begin van alle vertroue. As jy jou vertroue heelhartig in God stel, kan ander ook op jóú vertrou. As almal hierdie weg volg, kan die vertroue tussen mense ook weer herstel word - sodat ons kan leef en met ander kan saamleef.

-dw-

(Met erkenning aan Nikolaus Schneider in Neukirchener Kalender 2020)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css