Die Weg

 

Om 'n koronêr te skiet

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.” - Efesiërs 4:26-27.

'n Mens kan die bostaande ook lees as: moenie kwaad gaan slaap nie. En dit is beslis baie wyse woorde. Die mens se brein het 'n analitiese funksie wat help om jou gedagtes en emosies te orden. In die nag wanneer jy moet slaap, word hierdie funksie “afgeskakel”. Dan kan jy nie altyd alles in die regte perspektief sien nie, sodat die slegte ondervindinge van die voorafgaande dag jou kan oorweldig. Die woede binne jou neem toe en jou bloeddruk begin styg. Neem in ag dat 'n mens se bloeddruk in elk geval in die vroeë oggend ure styg, dan kan hierdie ekstra verhoging in druk 'n aar in jou kop of hart laat bars. As die kroonslagaar van die hart bars, skiet jy letterlik 'n koronêr. Die Harvard Mediese Skool sê as jy in die nag nie kan slaap nie, is dit dalk omdat jou bloeddruk ook nie slaap nie. Dit is maar net iets om in gedagte te hou. Die meeste hartaanvalle en beroertes kom juis in die vroeë oggendure voor.

Dit is ook nou weer op my van toepassing. Ek het in 2017 'n dagstukkie (boodskap) geskryf met die opskrif: “Selfgesprek: om nie ontsteld te raak nie.” Ek het egter nie ag op my eie woorde geslaan nie. En werklikwaar het dit my byna berou. Die situasie was die volgende:

Ons woon in 'n aftree-oord waarvan 'n sekere deel uit losstaande deeltitel huise bestaan. Die deeltitels word deur 'n raad van trustees bestuur. Die verf van die buitemure van die huise is die verantwoordelikheid van die oord. Die trustees bepaal die afwerking van die buitemure en stel die kontrakteur aan wat die verfwerk moet doen. Omdat finansies maar altyd 'n probleem is, word 'n kontrakteur gebruik wat dit goedkoop kan doen, sonder om self verantwoordelikheid vir sy werk te aanvaar. By ons eie huis het ekself dus die leiding oorgeneem. Die gevolg was dat die kontrakteur agter geraak het by sy skedule van twee dae per huis omdat ek nie tevrede was met die gehalte van die werk nie. Die trustee wat beheer oor die verfwerk uitoefen was woedend. Hy het in die teenwoordigheid van die verwers op my geskree omdat ek die “reëls” oortree het. Hy het alle werk aan my huis gestaak. Natuurlik was ek kwaad: kwaad vir die brouwerk van die verwers en kwaad vir die trustee. Daardie aand het ek kwaad gaan slaap. Twee-uur die nag het ek wakker geword. Die slaap het van my gewyk. Vieruur die oggend het ek aan Harvard gedink en my bloeddruk geneem. Ek het geskrik. Ek kon letterlik 'n koronêr geskiet het met daardie bloeddruk. Toe het ek ook gedink aan my skrywe om nie ontsteld te raak nie. Daarin het ek geskryf:

As ek in die regte verhouding met God staan, sal ek voortdurend bewus wees van Sy nabyheid. En as ek bewus is van Sy nabyheid sal ek twee keer dink voordat ek my ontstel, twee keer dink voordat ek kwaad word, twee keer dink voordat ek in woede uitbars .... En ek sal weet dat Hy naby my is wanneer mense vyandig teenoor my optree. Ek gaan van nou af probeer om nie ontsteld te raak nie en op die Here vertrou om my hierin te ondersteun.” Dan help dit ook om 'n vrou te hê wat jou daaraan herinner en jou kalmeer!

Paulus vermaan ons immers ook: “Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” (Ef 4:31-32). Die Bybel in Praktyk sê hiervan: “Woede wat onderdruk word lei tot bitterheid en uiteindelike selfvernietiging.

-dw -

NS: Hierdie week gaan ek huis verf en sal dus nie elke dag 'n boodskap kan uitstuur nie!
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css