Die Weg

 

As alles teveel word!

Maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder ‘n besembos aan die slaap.” - 1 Konings 19:4-5 (53-vertaling).

Die toneel is nie baie troosvol nie. Ons word geplaas in die troostelose wildernis van die gloeiende woestyn. Daar staan 'n armsalige struik: 'n uitgedorde, tengerige besembos. En onder dié struik sit daar 'n man met sy hoof tussen sy knieë. 'n Toonbeeld van wanhoop en verlatenheid.

Hierdie man is gedaan, hy kan nie verder nie. Hy het geen durf meer in hom oor nie, en hy wil ook nie verder nie. Hy het genoeg gehad van die lewe. Die kepe om sy mond weerspieël die angs en ellende waarin hy verkeer. Hy is lewensmoeg. Hoor hoe kla hy: “Dit is nou genoeg. Here, neem nou maar my lewe. Laat my asseblief maar sterf.

Dit is genoeg.” Elia mag dit maar sê. Dit is mense wat slap is in die lewe, wat lui is en wegskram van hul werk, wat nie breek nie. Dit is net 'n boog wat gedurig onder spanning verkeer wat uitmekaar spat. En dit is Elia. Hy het inderdaad “baie geywer vir die Here”. Skaars vier-en-twintig uur tevore het hy op die berg Karmel onder die blote hemel alleen met sy God teenoor die hele volk gestaan. Daar het hy die alvermoënde Here om vuur en water uit die hemel gebid. Deur sy hand is God se vyande gedood. Met sy lendene omgord het hy in stromende reën voor die koning se strydwa uitgehardloop as die aankondiger van die nuwe tyd. Elia, held van God - “wa van Israel en sy ruiters!

Tog kan dinge plotseling verander! Mense op hoë ouderdom kan vir jare stoer en fier wees sodat hulle groot dinge tot stand kan bring. Maar kom die terugslag, dan sak hulle inmekaar. Dan is dit asof alles ineens verby is met hulle. Dan is dit genoeg! En as Isébel vir Elia wil doodmaak, word hy bang. Hy vlug die woestyn in, al verder en dieper. Daar, heeltemal alleen, verval hy in diep depressie: “O, God, ek kan nie meer nie. Dit is genoeg! Dit is genoeg!

Elia is 'n gebroke man. Dit kan ook met elke dienskneg van God gebeur. Groot manne en moedige vroue mag by God gaan huil. By God hoef ons ons nie as sterk en onbreekbaar voor te doen nie. By God hoef ons nie altyd ons man te staan en te veg nie. By God kan ons ook net gaan lê.

Die lewe kan op ons ineenstort. Alles was so mooi en ons het alles so goed beplan en presies uitgereken -  en dan, plotseling, kom die slag. Die kosbaarste in ons lewe word ons ontneem. Die lig word vir ons doodgeblaas. Job beland as 'n melaatse op die ashoop. Ja .... dan mag ons gaan lê; dan mag ons gebroke mense wees.

Luister! Luister alle moeë mense, mense vir wie die pad te swaar word - God gaan julle nie oor jul moegheid aanspreek nie. Dit doen God ook nie met Elia nie. Alle stryders en werkers het hul oomblikke van depressie, hul tye van insinking geken. Dit is diep menslik. Dan moet jy tot ruste kom, dan moet jy maar 'n rukkie gaan lê. Maak soos Elia: “Daarop gaan hy lê.

Daar skuil groot waarde in daardie “gaan lê”. Elia was groot en indrukwekkend op die top van Karmel. Maar Elia as gebroke man onder die besembos in die woestyn is eerlik en selfondersoekend. Dit is dan die einde van die sterk man van Karmel. As die duisende van Israel hom maar só kon sien en hoor! So mag, ja so moet hulle hom ook sien en hoor. Arm is die mens wat dit nog nie ervaar het nie: om moeg te wees by God. Dit is vir alle mense wat op eie bene probeer staan en wat maar voortjaag in die lewe bitter nodig om 'n bietjie na Elia daar onder sy besembos te kyk. Het dit nie vir jou ook tyd geword om 'n keer moeg te mag wees nie, om ook 'n keer te gaan lê nie?

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css