Die Weg

 

As God se hand jou aanraak

(Lees saam met die vorige)

“Daarop gaan hy lê en raak onder ‘n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ‘n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!” - 1 Konings 19:5 (53-vertaling).

En kyk!” Hierdie twee woordjies klink na 'n jubelkreet. Dit bevat 'n toon van 'n skielike, onverwagte en blye verrassing. Hierdie mens bevind homself tussen (geestelike) mure. Menslik gesproke is daar vir hom geen opening waardeur hy kan ontsnap nie. Dit is die einde. Dit is klaar met Elia.

Hoor dan die jubel van die uitredding in die “en kyk”. Ineens is dit daar, deur al die newels heen. Dit sny deur al ons berekeninge en onmoontlike verwagtinge. Wonderlik! Want kyk, bo die in doodslaap versonke, deur nagmerries geryde menselewe is God se reddende, helpende hand.

Ja, dit is waarop dit eintlik neerkom. In en deur die engel raak God vir Elia aan. Die engel is God se hand. God steek sy hand uit na hierdie neergeslane mens wat in die draaikolk van moedeloosheid ingesuig is. Die engel is die manifestasie van God se hulp en bystand. So prakties, so daadwerklik is God se hand!

Dit is dan die evangelie vir alle mense wat hulself afgeskryf het. Vir alle lewensmoeë, eensame en wanhopige mense. Vir mense wat geen lig meer sien nie en miskien al met die gedagte aan selfmoord rondgeloop het. Hierdie woord verkondig aan jou: die hand van God is uitgestrek na die mens wat moed verloor het. God steek sy hand na jou uit. En die mens? Ag, baie keer wil hulle niks daarvan weet nie: “daar is niemand wat sy hand na my sal uitsteek nie.” Dit is die ervaring van mense wat hulself in benoude situasies bevind. En sou iemand tog nog wou help, dan kan hy nie, dan is sy arms te kort en sy hande te swak. Jy moet dit nie van mense verwag nie. Maar . . . jy hoef dit ook nie van mense te kry nie. God is ook in jou woestyn. God steek sy hand na jou toe uit. As alles hopeloos lyk, as ons niks van iemand kan verwag nie .... dán . . . ,”en kyk, daar raak 'n engel hom aan.” Dáár is God se hand!

(word vervolg)

Uit: De Stem achter U, deur ds Gabe van Duinen.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css