Die Weg

 

Om die wenstreep oor te steek

“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.” - 2 Timotheus 4:7.

Dit is asof die Christenveteraan Paulus teen die einde van sy lewe terugkyk en sy lewe soos 'n wedloop op 'n atletiekbaan sien. Die 1953-vertaling sê: “Ek het die goeie stryd gestry.” Die Christenlewe is vol stryd, spanning, probleme en ontwrigting, en daarom verg dit worsteling en geestelike sweet van die Christen. Die eintlike stryd is volgens Efesiërs 6:12, “nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld.” Hierdie magte het geen gevegsreëls waarvolgens die stryd gestry word nie. Daarom is dit 'n stryd waarby 'n mens se hele persoonlikheid betrokke is. Nooit kan 'n mens agteroor sit en reken op 'n wapenstilstand of 'n vredesverdrag nie. Die stryd is lewenslank - end-uit tot by die wenstreep.

Die eienskap wat onontbeerlik vir die Christen is, is om vas te byt en te volhard totdat die einde bereik is. Die Christen mag nie toelaat dat die eise, hindernisse en terugslae van hierdie wêreld hom ontsenu nie. Hy moet volhard totdat hy oor die wenstreep is en nie 'n halwe sekonde voor die tyd nie.

In die ouer vertaling sê Paulus: “ ... ek het die geloof behou.” Daar was baie aanslae op sy geloofslewe om sy vertroue in God te ondermyn, maar Goddank het hy gelowig end-uit volgehou.

Watter woord om jou lewe mee af te sluit!

Gebed: Ek erken dat ek al meer as een keer wou ophou en die stryd wou los. Dankie vir die stamina van die Heilige Gees in my. Gee dat ek sal vasbyt tot die einde toe. Amen.

Uit: Lig en Lewe 1986 (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css