Die Weg

 

Geloof in Christus as ons skild

Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.” - Efesiërs 6:16 (53-vertaling).

In Efesiërs 6 lees ons van die “geestelike wapenrusting.” Dit is vol oorlogsbeelde. Dit mag dalk vir ons vreemd klink, maar dit is in 'n sekere sin tog realisties, want die navolgers van Christus word uit verskillende rigtings aangeval. En hoe meer ons op die woorde van Jesus ag gee, hoe duideliker word dit (vgl Matt 10:22, Matt 24:9).

Die “wapenrusting” waarvan in Efesiërs 6 gepraat word, kom van Jesus Christus self. Dit het ten doel, en is sterk genoeg, om die aanslae van die Bose teen die gelowiges af te weer. Besonder belangrik “behalwe dit alles” waarvan ons in verse 14 en 15 lees, is die “skild van die geloof”. Daardeur kan die gelowige staande bly teen die “pyle” van die Bose. Die “pyle” van versoekings, vyandskap, haat, vervolging, miskenning...... Deur die geloof word Jesus Christus dan self ons “skild” agter Wie ons kan skuil.

En ons doen dit biddend (v18) sodat ons die Bose kan herken “want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (v12). In onsself is ons nie sterk genoeg daarvoor nie en hoef ons ook nie te wees nie. Want ons krag lê in Christus as ons maar in geloof op Hom vertrou: “Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag!” (Ef 6:10; direkte vertaling).

Uit: Neukirchener Kalender 2014 (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css