Die Weg

 

Die regte gesindheid

Sy genade bly onverganklik met almal wat vir ons Here Jesus Christus liefhet” - Efesiërs 6:24 (direkte vertaling).

Paulus het alle rede gehad om te kla daar waar hy in die gevangenis gesit het. Maar in plaas daarvan om hom aan sombere gedagtes oor te gee, kyk hy boontoe. Hy weet dat hy selfs in die gevangenis deur God gedra sal word. 'n Mens mag jou dalk daaroor verbaas dat die apostel nie vra om voorbidding vir die situasie waarin hy hom bevind nie, maar wel vir vrymoedigheid om die evangelie te verkondig.

Die einde van sy brief is nie 'n uitroep van wanhoop nie, maar 'n kragtige seën aan die lesers. Die Kerk van Christus is 'n gemeenskap van gelowiges wat in oorvloedige genade leef. Daarom spreek hy in sy seëngroet oor hulle die vrede en liefde van God, die geloof en hier veral die eindelose genade uit. "Genade" is die onvoorwaardelike ondersteuning van God waarvan ons elke dag afhanklik is.

Mense wat uit die genade van God leef, sal nie op hulle eie reg staan of op hulle eie prestasies staatmaak nie. Hulle kan laat los wat hulle benou en altyd 'n nuwe begin maak. Dit is wat ware vryheid beteken: om jou oë op God te rig en ag te gee op jou naaste.

Uit: Neukirchener Kalender 2014

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css