Die Weg

 

Betyds voorberei

Ina van der Schyff was vir 35 jaar 'n sendeling van die Overseas Missionary Fellowship (OMF) in Taiwan. Sy het nou besluit om haar memoires te boek te stel. By wyse van verandering plaas ek vandag een van haar aangrypende verhaaltjies met die titel: Betyds Voorberei.

---

Die hekklokkie lui: dis net na tienuur die oggend, 8 Julie 1976. Siegfried en Elizabeth Glaw is by die deur. Hulle is voogde vir ons wat nog as nuwe en onervare OMF-sendelinge met taalstudie besig is.

Hulle gaan sit en Siegfried sê: “Ina, we are sorry, but we are the bearers of bad news.

Ek vra: “Did somebody die?”, waarop hulle bevestigend antwoord.

Ek vra hulle om ‘n oomblik te wag en gaan haal my Bybel. Toe lees ek vir hulle Johannes 14:1-3 waar Jesus vir sy dissipels sê dat Hy vooruit gaan om vir hulle plek te berei. Ek lees ook uit 1 Thessalonisense 4:13-14 waar Paulus sê dat hy wil hê dat hulle nie ten opsigte van die ontslapenes onkundig moet wees nie.

Daarna vra ek: ”Is it my dad?

Hulle antwoord dat dit wel hy is. Eintlik het ek nie verseker geweet dat dit hy was nie, maar daarna het ek gedink dat my pa se afskeidswoorde dalk in my onderbewussyn vasgesteek het: “Ou girlie, as ons mekaar nie weer hier sien nie, ontmoet ons eendag daar BO”. Hulle vra ook hoe ek dit weet en wie die Skrifdele vir my gegee het. En dis ‘n heel ander verhaal:

Ek was daardie tyd met Romeine gedurende my oggendstiltetyd besig. Dié oggend was dit ook so, MAAR, vir een of ander rede dwaal my oë na die boekrak, en my oog val op ‘n boek “How to work for Christ” van RA Torrey.

Toe ek dit vat, val dit oop by ‘n hoofstuk: “How to comfort a Christian who has lost a loved one”. Ek begin en lees toe die hele hoofstuk. Hy skryf onder andere dat niemand regtig iemand anders kan troos met die afsterwe van ‘n geliefde nie; net die Here self kan dit doen. Daarby haal hy Skrifgedeeltes volledig aan.

Na ek die boek op die rak teruggesit het, dink ek: “Dalk gaan daar vandag iemand oor my pad kom wat bemoediging nodig het.” Min wetende dat dit ek self is, en dat die Here besig was om MY vir die nuus voor te berei!

Later daardie dag kry ek ‘n telefoonoproep uit Suid Afrika, met die besonderhede dat my pa die vorige dag deur ‘n frats-ongeluk in die myn oorlede is. 

---

-dw -

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css