Die Weg

 

Bring ons terug HERE na U toe

Bring ons terug na U toe, HERE, sodat ons kan terugkeer; maak ons dae nuut soos voorheen, tensy U ons heeltemal verwerp het, tensy U uitermate woedend vir ons is.” - Klaagliedere 5:21-22 (2020 vertaling).

Die woorde van Klaagliedere 5 gryp 'n mens aan. Dit spreek van die diepe nood waarin die volk verkeer. Die vertwyfeling en desperaatheid van die mense wat as gevolg van die dwaasheid en sondes van hul vaders moes ly, roer 'n mens diep as ons hierdie uiters weemoedige klaaglied lees.

Maar dan, heel aan die einde is daar 'n ligpunt wanneer die volk hulle tot die HERE wend. Die God wat deur hulle verwerp is, word weer met vertroue aangeroep. Hulle verlang weer na die tye van weleer toe die volk onder die troue sorg van God in die land van die belofte geleef het; dat hulle weer tuis kan wees dáár waar Hy in hulle midde woon – Hy, húlle God en hulle Sý volk. Die bidder weet: maar uit onsself kan ons dit nie doen nie en kan ons dit ook nie van God afdwing nie. Die genadige HERE moet tot ons redding kom, ons na Hom toe terugtrek. Dinge kan net verander as Hy vir ons 'n nuwe begin gee.

Dié mens wat besef dat daar, weens die sonde, verwydering tussen hom en God gekom het, en die verlange het om na God terug te keer, kan verseker wees dat God hom nie in die steek sal laat nie. Hy het die verstrooide Israel weer teruggelei na die beloofde land sodat hulle 'n nuwe begin kon maak.

“So sê die Here, ‘In hierdie plek waarvan julle sê: “Dit lê vervalle, sonder mens of dier” – in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mense, sonder inwoners en sonder diere, sal dit weer gehoor word: die geluid van vrolikheid en vreugde, die stem van bruidegom en bruid, die stem van hulle wat sê, “Prys die Here, Heerser oor alle magte,want die HERE is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” terwyl hulle dank betuig in die huis van die Here. Ja, Ek sal die lot van die land verander om te wees soos voorheen,’ sê die Here.' “(Jer 33:10-11).

Uit: Neukirchener Kalender 2020 (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css