Die Weg

 

Om in gebed tot God te verkeer

“In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het.” - Lukas 6:12-13.

“Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.” - Mattheus 14:23.

Om in gebed tot God te verkeer, is meer as net om te bid. Dit is meer as wat ons normaalweg onder “bid” verstaan. Dit het die diepere betekenis “om met God te wees”; om ons oop te stel in die teenwoordigheid van God; om net stil te wees sodat ons kan hoor wat Hy vir ons wil sê. En verder dat ons ons gedagtes in toom sal hou sodat ons ons bekende, besige, spanningsvolle lewe vir 'n wyle kan onderbreek. Dan kan ons die kragveld van God betree, en rus vind in sy ongelooflik kalme, rustige en alwetende liefde.

Dit was ook die lewensaar van die Seun van God op aarde. Hy het uit hierdie verbondenheid met die Vader geleef. In die teks hierbo sien ons dat Hy 'n belangrike besluit moes neem, nl die roeping van die twaalf apostels. Daarom was Hy die hele nag deur in gebed tot God. Alles wat Jesus gedoen het, het Hy gedoen in verbondenheid met die Vader.

Dit is waarvoor ons as kinders van God, deur Jesus Christus, ook tyd en plek moet maak.  God is daar vir ons: sy liefde, sy krag, sy vrede is daar tot ons beskikking. Nou en vir altyd.

Uit: Neukirchener Kalender 2021 (effens aangepas).

Verdere aanhalings:

Ek het al baie dinge in my hande gehou en ek het alles verloor. Maar alles wat ek in God se hande geplaas het, dié het ek nou nog.” - Martin Luther.

“As ons die nood van ons lewe in gebed na God bring word alle laste nie noodwendig onmiddellik van ons weggeneem nie, maar in God se nabyheid word ons nood en laste so verander dat ons dit kan dra sonder om ten gronde te gaan.” - Mattias Dressler.

“Baie keer het ek meer geleer uit een gebed as uit baie boeke” - Martin Luther.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css