Die Weg

 

As die storms ons wil verswelg

'Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”' - Mattheus 8:23-26.

Ons sien hier hoe Jesus se dissipels angsbevange raak wanneer daar 'n groot storm om hulle heen losbars. Die dissipels se geloof word hier tot die uiterste beproef.

Ook ons lewensbootjie is blootgestel aan die storms van die lewe. Ook ons beleef veral nou die storms van droefheid, siekte en dood. Die branders van teleurstellings, teëspoed en rampe maak ons angsbevange oor wat nog moet gebeur. Die een dag dobber ons nog rustig en gemaklik voort, om net die volgende dag te voel asof ons deur die golwe verswelg gaan word. En die storms kom byna almal sonder vooraf waarskuwings, soos ook die dissipels in die skuit dit ondervind het.

Vir die dissipels het dit gelyk asof Jesus nie regtig omgegee het dat hulle in so 'n groot gevaar verkeer nie; dat Hy Hom heeltemal van hulle onttrek het. Maar hoe onverdiend was hierdie verwyt van die dissipels! Te midde van die woeste storm was hulle nog steeds veilig. Die vaartuig wat hulle gedra het sou nie sink nie. Hulle moes net vertrou. Daarom sê Jesus verder: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Daar is 'n les wat ons uit hierdie verhaal kan leer. Ons dink ons is sterk en is vol bravade totdat die storms van die lewe oor ons toesak. Dan, as die gevoel van algehele hulpeloosheid oor ons kom, soek ons na 'n anker in die lewe, net soos die dissipels. En hulle kry hul vertroosting by Jesus.

Soms wil dit vir ons voorkom asof Hy Hom van ons onttrek. Hy staan egter nooit onverskillig teenoor ons nie. Hy vergeet ons nooit nie. Ons moet egter vas glo dat ons in tye van nood en gevaar, sonder vrees of bekommernis, op Hom kan vertrou. En dan die groot waarheid: Jesus maak die storm stil. Daar is niks in hierdie wêreld wat nie onder die heerskappy staan van Hom wat sy lewe vir ons aan die kruis gegee het nie.

“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Joh 14:27).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css