Die Weg

 

Kerkkoor as stormtroepe

En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!” - 2 Kronieke 20:21 (53-vertaling).

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.” - Handelinge 16:25-26 (83-vertaling).

Hoewel koning Josafat van Juda sy militêre sake goed onder beheer gehad het, het 'n groot vrees hom beetgepak toe 'n menigte Moabiete, Ammoniete en Meüniete teen hom opgetrek het. Daarom het hy 'n nasionale vasdag oor Juda uitgeroep. Die koning het self voorgegaan in gebed en het hartroerend gebid: “.... in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie ... maar ons oë is op U.” Dit was 'n gebed uit die hart. Daarop het die Gees van die HERE op 'n Leviet gekom wat spontaan uitgeroep het: “Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” En dan word hierdie vas- en biddag afgesluit met kragtige lofliedere deur die tempelkore.

Ons is dikwels “geloofshelde” in die kerk, maar terug by die huis pak die vrees ons net weer beet. So moes die volk van Juda die volgende oggend bewys lewer dat wat in die tempel gebeur het, ook in die werklike lewe tot uiting sou kom. Hulle gaan nou van aangesig tot aangesig teenoor die vyand te staan kom. Na 'n kort preek van koning Josafat, is die leër opgestel. Die stormtroepe heel vooraan om die eerste aanslag af te weer. Ons sou verwag dat dit die dapperste en bes bewapende krygsmanne sou wees. Maar Josafat doen toe die ongelooflike ding: hy laat die tempelkoor in heilige sieraad as stormtroepe vooruit trek. Sonder die beskerming van swaar gewapende soldate moes hulle die vyand tegemoet loop met die loflied: ”Loof die HERE want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” Ons mense met gesonde verstand sou sê: So versoek 'n mens die HERE en pleeg op 'n vroom manier selfmoord.

Maar die kerkkoor het meer bereik as die dapperste stormtroepe. Loof en geloof hoort bymekaar. Hulle het hulle geloof uitgesing. Daarna was dit nie meer die stryd van mense nie, maar van God. Hulle lofsange was geloofsange, en het gedien as skild van die geloof – “die skild waarmee ons al die vurige pyle van die Bose kan uitblus” (Ef 6 :16).

“.... Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande. En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE. En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het.” (2 Kron 20:27; 53-vertaling).

Dit is beskamend dat ons óns stryd nie as oorwinnaars begin nie, en daardeur geen singende stormtroepe in die wêreld is nie. Toe Paulus en Silas as die stormtroepe van Jesus in Europa opgetree het, het hulle gou in die gevangenis beland. Maar hulle het saam 'n kerkkoor van Jesus Christus gevorm en het 'n aardbewing in die gevangenis losgesing, waardeur die deure en boeie oopgespring het. Ons sing te min aardbewings in hierdie wêreld los omdat ons geloof te min is.

Ons is te min van 'n kerkkoor en te veel van vleeslike stormtroepe.

Uit: Venster op het Leven, deur ds J Overduin (effens aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css