Die Weg

 

Een ding doen ek

“Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” - Filippense 3:14.

Dit is 'n onuitspreeklike seën wanneer al ons gedagtes en begeertes verenig is in die blik op die groot doel van die lewe. Dawid het net één ding verlang, en dit was om in die huis van die Here te woon (Ps 27:4). Maria het die goeie deel uitgekies wat nie van haar weggeneem kon word nie (Luk 10:42). Paulus het sy oog en hart gerig op net één ding, naamlik die prys van sy hoë roeping (Fil 3:14). Hy het vergeet van alles wat agter hom gelê het en hom uitgestrek na wat voor is; na die hoë prys van die heerlikheid wat voorlê en om vrug te mag dra in die koninkryk van Jesus Christus. Nóg die verlede, nóg die teenwoordige kon sy siel bevredig. Hy het sy hart, sy begeertes op alles gestel wat hy vir Christus kon doen, en steeds daarna gejaag om meer gelykvormig aan Christus te kon word.

Hoe beskamend is sy voorbeeld vir ons. Hoe dikwels word ons gemoed, ons hart, ons gesindheid afgetrek van die grootste doel waarop ons ons oë moet rig. Jesus se hele lewe was onafgebroke gerig op die heerlikheid wat vir Hom beskore was. Moses het uitgesien na die beloning wat wag (Heb 11:26). Paulus het nie die sienlike dinge nagejaag nie, maar die onsienlike wat sou bly tot in die ewige lewe.

Ook ons loop hierdie weg deur die geloof en besproei die weg dikwels met ons trane, maar ons sal uiteindelik die eindpaal bereik. Laat ons dan ons oog en hart altyd gevestig hou op dié één ding, omgord met die volle wapenrusting van God; met ons oog alleen gerig op die prys wat vir ons weggelê is. En ons sal oorwin, maar dan alleen deur die geloof.

Uit: De Meester is daar en Hij roept U, deur Mev CA du Plessis (1915) (effens aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css