Die Weg

 

Jy is nooit alleen nie

“Die God van die voortyd is 'n skuilplek, en onder jou is ewige arms” - Deuteronomium 33:27(2020-vertaling).

Daar kom tye in 'n mens se lewe wanneer jy eensaam en alleen voel, selfs al is jy tussen mense. Dit lyk dan asof niemand jou gevoelens verstaan of omgee wat met jou gebeur nie. En dit is nie net die mense nie, want dit voel vir jou asof ook God ver weg is en van jou vergeet het. Jou gees begin dwaal in die woestyn van selfbejammering en depressie. Die groot gevaar kom wanneer negatiewe gedagtes die oorhand kry, en jou eensaamheid oorgaan in wanhoop. Jy is dan nie meer bewus van die versterkende kragte waarmee jy jou gees kan vernuwe nie.

Dit is iets wat ons altyd in gedagte moet hou. As jy voortdurend die negatiewe gedagtes vertroetel sal hulle uiteindelik jou lewe oorheers. Maar as jy jou gedagtes op God vestig en sy lewende teenwoordigheid bewustelik koester, sal jy die vaste waarheid besef dat God altyd met jou is waar jy jou ook al bevind, en wat jy ook al doen. Alhoewel jy miskien dink dat jy verlore is deur jou innerlike stryd, is jy nooit vir God verlore nie. Daar mag tye wees dat jy weens jou eie dwase optrede jou verhouding met God vertroebel het, sodat God vir jou onwerklik lyk, maar dit doen niks aan die waarheid dat God steeds met jou is nie. Al voel dit vir jou of God soms so ver weg is van jou, laat Hy jou nooit in die steek nie.

Deur Christus is ons kinders van God, en as kind van God bestaan sy liefde vir jou vir ewig. Dit is meer en groter as net 'n eenmalige emosionele ervaring. Jy hoef ook nie te dink dat jy in jou posisie onwaardig is vir Hom nie. Hy het jou lief soos jy is, en Hy glo in jou selfs as jy vertroue in jouself verloor het.

Gebed: Ek dank U, o Here, dat U in u groot genade vir my as u kind uitverkies het, en dat ek kan weet dat U my nooit sal laat gaan nie.

Uit: Through the Year with Faith, deur Arnold J Walker.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css