Die Weg

 

Hoop in die Voorsienigheid – Moed uit die Vreugde

“Die blydskap in die HERE - dit is julle beskutting.” - Nehemia 8:11 (53-vertaling).

John Gibson Paton (1824 – 1907) was 'n Skotse protestantse sendeling wat in 1858 die Nuwe Hibriede eilande in die Stille oseaan gaan bedien het. In daardie tyd was kannibalisme nog deel van die lewenswyse van die plaaslike bevolking (sien voetnota hieronder). Paton skryf in sy dagboek: “Hoop is dit wat my aangespoor het deur al die uitdagings van die bediening.

~

Een oggend met dagbreek was my huis omring van gewapende mans. Die hoofman het my te kenne gegee dat hulle daar was om my lewe te neem. Omdat ek totaal en al in hul hande oorgelewer was, het ek neergekniel en myself na liggaam en siel aan die Here Jesus oorgegee, in wat vir my gelyk het my laaste oomblik op aarde was.

Ek het opgestaan en uitgegaan na hulle toe. Ek het kalm met hulle gepraat oor die onvriendelike behandeling wat hulle my gegee het in kontras tot my eie optrede teenoor hulle. ..... Uiteindelik het sommige van die hoofmanne wat my erediens bygewoon het, opgestaan en gesê: “Ons gedrag was sleg, maar nou sal ons vir jou veg en almal doodmaak wat jou haat”.

Op 'n stadium het die inheemse bewoners in groot getalle by my huis saamgekom. 'n Man het verwoed met sy byl op my afgestorm, maar 'n Kaserumini-hoof het die graaf gegryp waarmee ek gewerk het, en my gered van 'n gewisse dood.

Die lewe in sulke omstandighede het daartoe gelei dat ek stewig aan die Here Jesus vasgehou het. Namate my moed toegeneem het, het die Goddelike Voorsienigheid my meer vrygemaak.

~

O, dat die plesier-soekende mans en vroue van die wêreld net die ware vreugde kon smaak en voel van diegene wat die ware God ken en liefhet - 'n erfenis wat die wêreld nie aan hulle kan gee nie, maar wat die armste en nederigste volgelinge van Jesus ontvang en geniet!

Wanneer sal die mense se oë by die huis oopgaan? Wanneer sal die rykes en geleerdes afstand doen van hul leë ydelheid en onder die armes, die onkundiges, die uitgeworpenes en die verlorenes gaan woon? Húlle wat die grootste vreugde, “die vreugde van die Here”, gesmaak het, sal nooit vra: “Is die lewe die moeite werd?” nie.

Laat ek dit so aanteken dat dit my vaste oortuiging is, dat dit die edelste diens is waarin enige mens kan staan of sy lewe voor kan gee.  As God my lewe weer terug sou gee om oor te leef, sal ek dit sonder enige twyfel vir Christus op die altaar neerlê, sodat Hy dit mag gebruik soos voorheen in soortgelyke bedieninge van liefde, veral onder hulle wat nog nooit die naam van Jesus gehoor het nie.

Niks wat my nou kan tref maak my bang nie; inteendeel, ek verheug my innig!  Waarom? My vreugde kom van hierdie ewige hoop: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt 28:20).

John G Paton in Fill Me with Hope, saamgestel deur Paul M Miller

Verwysing: Working amongst the cannibals
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css