Die Weg

 

Geseënde aanneming

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” - Efesiërs 1:5.

'n Vader is lief vir sy kind, of dit nou 'n egte kind is of 'n aangenome kind. En deur Jesus Christus is ons kinders van ons Hemelse Vader. Jesus Christus noem ons immers kinders van die Vader as Hy vir Maria sê: “Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is” (Joh 20:17). Ook in Johannes 17 lees ons van Christus se Hoëpriesterlike gebed en waar Hy bid: “Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.” (Joh 17:10). Hy het hier geïmpliseer dat ons in dieselfde liefde deel as Hy, en dit word ook verder duidelik in vers 27 waar Hy bid dat dieselfde liefde in ons mag wees as wat in Hom is. Watter groot seën is dit nie! Hoeveel beter is dit om onder die liefde van God te staan as onder die toorn van God!

Maar dit bly nie net daar nie, want sy seën oor ons gaan nog verder. Ons ontvang ook sy Gees wat in ons woon. Ons sien dit in Galasiërs 4:6: “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: 'Abba!' Dit beteken: Vader! "

Christus het gekom om ons te verlos van die vloek van die wet en om ons kinders van God te maak. Dit is wonderlik om die liefde van Christus te ontvang, maar ek sal julle vertel wat nog wonderliker is, dit is om die Gees van Christus te ontvang. Het jy deel daaraan?

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” (Rom 8:15).

Robert Murray McCheyne in: Fill Me with Hope, saamgestel deur Paul M Miller (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css