Die Weg

 

Waar mens geen hoop het nie

“Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan.” - Spreuke 10:28 (53-vertaling).

“Sonder hoop en sonder God in die wêreld.” - Efesiërs 2:12b.

Watter nut het die lewe vir dié mens wat geen hoop het nie, vir wie die toekoms geen verwagting inhou nie? Hoop gee lewe, want die lewe is toekomsgerig. En wat ons gevoel is oor die toekoms, bepaal hoe ons die hede sal ervaar.  As die toekoms niks meer vir ons inhou nie, het ons ook geen moed meer om vandag een tree verder te neem nie. Om jou hoop te verloor, is om jou moed te verloor, en as jy moed verloor het, het jy alles verloor. Dan het jy by die punt gekom waar alles op 'n einde is. Die punt waar selfmoord 'n opsie is, omdat daar geen enkele verwagting meer oorbly nie.

Tog sal die meeste mense terugdeins van selfmoord, omdat die dood vir hulle net so onpeilbaar duister is as die lewe. Dit is 'n verskriklike situasie waar nóg die lewe, nóg die dood enige verwagting inhou. Maar die Woord van God leer vir ons anders. In die Heilige Skrif handel dit nie alleen oor die hoop vir die nabye toekoms nie, maar veral ook oor die hoop op die laaste en verste toekoms. Alleen God is magtig en ook barmhartig om vir ons alles te gee vir sowel die nabye as die verste toekoms. As jy by die grens kom waar mens en wêreld, en lewe en dood niks vir jou kan bied nie, kan God alles vir jou gee.

Dit is verskriklik wanneer die mens aan die grense van sy bestaan vir God in Christus nie ken nie. Hy kan dan besluit dat hy glad nie verder kan gaan nie, óf hy gaan homself probeer troos met 'n valse verwagting. In die laaste geval leef hy van die waanbeelde wat hy vir homself skep. Die goddelose, die mens sonde God, leef uit 'n ydele hoop. Die ontnugtering kom wanneer die oomblik van waarheid aanbreek. Waarop moet hy dan hoop? Alles wat hy gedink het waarop hy kon hoop, val weg. Sy naam, eer, posisie, gesondheid, die waan dat die dood “dood” is en agter die dood niks meer is nie, is daar nie meer nie. Daarom sal die hoop van die goddelose volgens Spreuke 10:28 tot niet gaan.

Paulus herinner die bekeerde heidene aan die hopelose toestand waarin hulle verkeer het toe hulle nog sonder God geleef het - sonder God, dit wil sê, oorgelewer aan 'n onbeheersbare noodlot en uitgelewer aan jouself. 'n Mens ontvang hoop en verwagting wanneer hy deel kry aan God se versoening en verlossing. Die heidene en die ongelowiges ken of verstaan nie die beloftes van God se verbond met die gelowiges nie. Die rykdom van Israel was juis dat God deur sy belofte hulle aan alle kante beskerm het, sodat hulle by elke grenssituasie nie in 'n duistere dood geval het nie, maar deur die troue arms van die Here opgevang is. Helaas het Israel in sy geheel dit nie met ware geloof ingesien nie. 

Die verkondiging van God se Woord en die gebruik van die sakramente is die uitnemendste van alles denkbaar, omdat God ons daarin met sy breë liefde-arms opvang. Daarom is daar altyd hoop en blydskap vir die ware gelowige. Hy is geborge en beskermd. Jesus Christus is die Eerste en die Laaste, Hy omring wat syne is van agter en van voor.

Uit: Venster op het Leven, deur ds J Overduin.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css