Die Weg

 

Gebed van Antoine de Saint-Exupéry

Antoine de Saint-Exupéry (1900 – 1944) was 'n Franse skrywer, digter, joernalis en vlieënier. Hy het in 1944 met die geallieerdes se inval in Suid-Frankryk (Operation Dragon) gesterf toe hy 'n verkenningsvlug bo-oor Duitse gebied uitgevoer het.

Antoine de Saint-Exupéry was 'n diep gelowige man. Sy gebed hieronder is alom bekend en in verskillende tale vertaal. As 'n mens aanvaar dat die Franse weergawe, soos op die Franse Katolieke Kerk se webwerf, die oorspronklike is, dan lyk dit asof daar in die verskillende vertalings dele bygevoeg is wat nie na die oorspronklike teruggevoer kan word nie. Die weergawe hieronder is direk vanuit die Frans vertaal.

Bron: http://site-catholique.fr/index.php?post/Priere-Antoine-de-Saint-Exupery

------------------

Leer my die kuns van klein treetjies

Here, leer my die kuns van klein treetjies.
Ek vra nie vir wonderwerke en visioene nie,
maar net krag vir elke dag!
Maak my oplettend en vindingryk sodat ek
my kennis en ervaring, sover as dit my aangaan,
op die regte oomblik kan benut.
Help my om my tye beter te bestuur, met die vermoë
om te kan onderskei wat belangrik en minder belangrik is.
Ek vra vir krag, selfbeheersing en oordeelsvermoë
sodat ek nie deur die lewe meegesleur sal word nie,
maar die verloop van elke dag met wysheid sal beplan.
Help my om wat voor hande is, so bes moontlik te kan hanteer
en om die huidige uur as die belangrikste te beskou.
Gee my die nugtere insig dat probleme, nederlae, mislukkings,
en terugslae 'n vanselfsprekende deel van die lewe is
waardeur ons na rypheid groei.
Maak van my 'n mens wat kan uitreik  
na hulle wat diep geval het (wat diep onder lê).
Gee nie vir my wat ek wens nie
maar wat ek nodig het.
Leer my die kuns van klein treetjies!
So sal dit wees!

Antoine de Saint-Exupéry
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css