Die Weg

 

Ken jou Lig

"Die HERE is my lig en my redding - vir wie sal ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe - vir wie sal ek bang wees?” - Psalm 27:1 (2020-vertaling).

Magé Troskie, die hoofmeisie van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het in haar toespraak by die verwelkoming van die nuwelinge, die volgende gesê: “Lig jou ken en ken jou Lig.” Dus: moenie ondertoe kyk nie, maar kyk na Bo.

Haar woorde het my weer laat dink aan Psalm 27. Die Psalm waarvan Augustinus gesê het:  “hierdie woorde is ‘n geskenk deur die genade van God”.

Dawid het ook sy Lig geken. Daarom kan hy in Psalm 27 uitjubel dat daar niks is waarvoor hy hoef te vrees nie, omdat die HERE sy lig en sy toevlug is. As ons om ons rondkyk, sien ons net die duisternis raak. Die duisternis van siekte en dood, van menslike vergrype aan die lewens van ander, van godsdienstige verval. En hierdie duisternis bring vrees. Dit lyk ook asof die media behae daarin vind om op sensasionele wyse die vrees in mense net verder aan te blaas. As ons egter ons kenne oplig en na Bo kyk, sien ons bo die duisternis die lig. Die lig van Jesus Christus. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).  Augustinus het gesê: “Sonder die Here leef ons in uiterste duisternis en krankheid.”

As Hy dan nou ons lig is, het ons ‘n seker, vaste en ware hoop. Waarom en vir wie of wat sal ons dan vrees? Die Here is jou lig, die Here is jou redding. Vind daarom jou krag in Hom en vertrou op Hom. Buiten Hom vrees ek niemand..... Watter groot vertroue moet daar in hulle heers wat kan sê: “Die HERE is my lig en my redding - vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe - vir wie sou ek bang wees?

Vertrou op die HERE! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die HERE!” (Psalm 27:14; 83-vertaling). Moenie op mense vertrou nie, want alle mense is feilbaar. Vertrou op die Almagtige, Onveranderlike en Waaragtige wat sy beloftes aan ons gemaak het deur Jesus Christus. Hy deur wie ons kan glo: “dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes”. In die woorde van Augustinus: “Hulle wat hierdie geloof en hoop opgegee het, hulle het slap geword en het hul krag verloor.”

En as ons dan in dié lig lewe, moet ons uitreik na diegene wat nog in die duisternis ronddwaal, soos Antoine de Saint-Exupéry bid (die vorige boodskap): “Maak van my 'n mens wat kan uitreik na hulle wat diep onder lê”.

Lig jou ken en ken jou Lig!”  (Magé Troskie).

-dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css