Die Weg

 

Die blymoedige hart

‘n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog.” - Spreuke 17:22 (53-vertaling).

Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” - 1 Tessalonisense 5:16-18.

Sommige mense het van nature 'n blymoedige uitkyk op die lewe en kan selfs in die moeilikste omstandighede voortgaan om 'n inspirasie vir ander wees. Ek het in vorige boodskappe gewys op mense soos ds Gabe van Duinen, ds J Overduin, Viktor Frankl en Helmut Thielicke. Dit was almal mense wat die angs en swaarkry van die Tweede Wêreldoorlog blymoedig deurstaan het. En so is daar ook baie mense in die daaglikse lewe waarvan ons nie eers bewus is nie, mense wat deur alle swaarkry en lyding heen tog 'n beeld van blymoedigheid uitstraal.

'n Gelukkige en blymoedige hart is iets wat aangekweek kan word. En ons moet dit doen omdat ons nie kan bekostig om onsself geheel en al aan ons negatiewe stemmings oor te gee nie. Ja, daar is tye dat ons, dalk sonder enige noemenswaardige rede, bedruk en neerslagtig voel. Dan is dit tyd dat ons dalk vir onsself moet sê: “'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput.” (Spr 17:22; 83-vertaling). Ons moet daarteen waak dat ons nie deur ons neerslagtigheid verteer word of dat ons ons terneergedruktheid op ander oordra nie.

Ons stemminge is soms soos 'n wilde perd wat met ons oploop wil gaan. Maar soos met die wilde perd kan ons dit, deur 'n besliste wilsdaad, onder bedwang bring. Ons kan weier om net oor negatiewe dinge te praat en ons pessimisme en swartgalligheid na ander oor te dra. Ons kan die moedigheid aan die dag lê om die aandag weg te neem van onsself en ons oë op Christus te rig. Dán kan ons met 'n gees van vrede en danksegging die wêreld ingaan om Christus se lig uit te dra, eerder as om donker skaduwee's oor die lewenspad van ander te gooi. 'n Blymoedige hart trek ander mense nader, 'n swaarmoedige hart stoot af.

By alles wat in ons onvolmaakte wêreld gebeur, is daar tog altyd dinge waaroor ons bly kan wees. Ons moet begin deur ons seëninge te tel, ook in die klein dingetjies. Maar die grootste seëning wat ons het, is die liefde van God. Wanneer die hart vol is van die lig en liefde van God, het ons iets om oor bly te wees. En ons kry dit deur 'n lewende gemeenskap met Jesus Christus. In Hom is daar 'n oneindige oorvloed van vrede en vreugde, sonskyn en lig. Laat ons ons harte oopstel vir Hom en ons elke nuwe môre “beklee ..  met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld” (Kol 3:12; 2020 vertaling). Lees ook: Is daar 'n prys vir lig?

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css