Die Weg

 

Voed jou vlam met die olie van die liefde

Daar is 'n ou gesegde: dit is nie nodig om 'n ander lig te doof om joune te laat skyn nie. In 'n wêreld waar wedywering en stryd die grondslag van ons bestaan is, gebeur dit so dikwels dat ons 'n ander moet neerhaal, sodat ons op hom kan staan om so hoog te reik as wat ons graag wil. In sekere kringe is dit 'n aanvaarde beginsel, en daarom hoor 'n mens so dikwels sê - asof dit die mees gewone ding ter wêreld is: Trap, of jy word getrap; besigheid is besigheid; as jy bo wil uitkom, moet jy hard wees.

Nou is dit waar dat ons ons eie lewe so ingewikkeld en verwikkeld gemaak het, dat die stryd om die bestaan dikwels ontaard in 'n stryd wat jy eintlik in die oerwoud verwag. Die eie belang kom eerste - 'n ander se belange neem jy nie in ag nie, behalwe as jy dit tot jou voordeel kan gebruik. Hierdie houding het veral gekom en versprei met die opvatting dat die hoogste geluk in stoflike besit lê - nie net in die geval van die enkeling nie, maar ook van die groep, die volk, die staat. In die klein kring waarin die enkeling beweeg, word die medemens meestal vertrap om stoflike voordeel te bekom, of status, of eer.

Dan vra 'n mens jou af: waar staan hierdie dinge in die werklike rangorde van waardes? Die stoflike dinge ontvang ons ook maar, uit 'n genade wat ons nie altyd begryp nie, die een meer, die ander minder. Maar ons ontvang dit as pagters, nie as ware besitters nie; en as aan die een pagter meer gegee word om sy oog oor te hou as die ander, maak dit hom nie 'n beter mens nie, maar dit gee hom 'n groter verantwoordelikheid vir die dag wanneer die Rentmeester kom om verantwoording te eis.

Wanneer ons smag na status en eer, hoe verhef dit ons bo ons medemens? Wie plaas ons in die status en wie gee ons die eer? Watter maatstawwe gebruik ons om die een te verhef bo die ander? Ons is almal lote van een stam en ons eer en ons verdienste lê daarin dat ons dien - nie dat ons gedien en vereer word nie. En wanneer ons streef om meer te besit aan goed en eer en status as ons broer, verhef ons 'n laer waarde tot 'n doel en daardeur toon ons ons gebrek aan oordeel en begrip, en dit is tog die ware begrip wat die mens verhef, en nie die op wie hy staan om boontoe te klim nie. As hy dan 'n ander lig uitdoof om sy eie te laat skyn, verswak hy die glans waarin hy wou skitter.

Dit is eerder ons glorie en ons voorreg dat ons uit 'n groter Vlam ons vonk ontvang het, en dat ons die vonk met toewyding, met lief de en begrip en insig, en met arbeidsaamheid troetel en versterk, en dat ons aan ander, met wie ons in aanraking kom, die geleentheid gun om hulle fakkel by ons aan te steek. Want dan is ons fakkel vrugbaar en 'n dienaar van die lig; dit word nie kleiner of swakker as dit sy vlam en sy lig en sy warmte leen aan ander wat dit nodig het nie.

Want een vonk, wanneer hy gevoed word deur die olie van die liefde, kan sy klein kolletjie lig versprei tot 'n heerlike glans wat die donker binnedring, verder as wat hy self ooit gedroom het. So het die onselfsugtiges van die geskiedenis, die grotes wat nie na grootheid gesoek het nie, maar wat gedien het omdat hulle 'n lig gehad het om te versprei, die wêreld steeds verder en verder ingeneem met die lig van 'n gedagte, 'n klinkende woord, 'n helder en opregte daad, 'n mooi voorbeeld en 'n wyse voorskrif.

Dit is nie nodig om 'n ander lig te doof om jou eie te laat skyn nie. Want jou lig, wat maar 'n geringe vonkie is, het jy ook maar uit genade ontvang uit 'n groter Vlam, en dit is jou eer en jou voorreg om, wanneer jy teruggeroep word na die Moedervlam, dié te kan versterk met 'n groter glans as wat jy ontvang het.

Uit: 'n Rusplek langs die pad, deur John van der Berg
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css