Die Weg

 

Stukkende kleipotte straal lig uit

Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons 'n gewigtige en allesoorteffende ewige heerlikheid, terwyl ons nie let op die sigbare nie, maar op die onsigbare dinge; want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig.” - 2 Korintiërs 4:17-18 (2020-vertaling).

Kyk na die wonderlike teenstellings in hierdie hoofstuk: lig teenoor duisternis; lewe teenoor die dood. En teenoor verdrukking, vervolging, verleentheid en platgeslaan, staan oorwinning, onvernietigbare hoop en die helder gloed van die Christelike geloof. Die verganklikheid van die uiterlike mens staan teenoor die vernuwing van die innerlike; die ligte verdrukking teenoor die gewigtige en allesoortreffende heerlikheid; die kort tyd van die aardse pelgrimsreis teenoor die geluksaligheid van die ewigheid.

Dit is belangrik dat ons nie die geweldige seën sal misloop wat vir elke beproefde mens beskore is nie. 'n Mens kan voor al die moeilikhede en beproewinge swig met 'n gevoel dat alles net eenvoudig te veel geword het; of jy kan hard word en die teëspoed gelate aanvaar omdat dit nie verhelp of vermy kan word nie. Uit die Christelike oogpunt moet ons onsself egter sien as kleipotte wat maklik kan breek. Maar dit is nie waar dit bly nie, want daar is 'n skat van lig binne hierdie kleipotte, wat soms oopgebreek moet word om die helder lig van Christus uit te straal (vers 7). Dan moet ons in dankbaarheid daaraan dink “dat ons die sterwe van Jesus Christus in ons liggaam saamdra, sodat ook die lewe van Jesus Christus in ons sterflike liggaam sigbaar kan word” (vers 10).

„Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie." (Jes 43:2).

GEBED: Vestig my hart op U, o Here, sodat ek te midde van die wisselvallighede en verdrukkinge van hierdie sterflike lewe, standvastig en onwrikbaar sal voortgaan met u werk. Amen.

Uit: Our Daily Walk, deur FB Meyer (aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css