Die Weg

 

Ons is op 'n pelgrimsreis deur die woestyn

Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte” - Psalm 90:9 (53-vertaling).

Die majestueuse musiek van hierdie groot Psalm onderskei dit van al die ander. Moses se outeurskap is duidelik daarop afgedruk. Dit is dié man waardig wat God van aangesig tot aangesig gesien het.

Die Psalm gee 'n beeld van die omswerwinge en die ervarings van die volk Israel tydens hul tog deur die woestyn: die bewaking van die kamp teen die Bedoeïene-rowers of die wilde diere wat hulle kon oorval; die gedruis van 'n watervloed na 'n stortbui maar wat net so gou weer in die sand verdwyn; die gras wat in die môre uitspruit maar net so weer deur die warm woestynwind verskroei word; die teleurstelling by die fonteine van Mara; die koelte en verfrissende fonteine by Elim wat agterlaat moes word; die lang moeisame trek met moeders en suigelinge, oues van dae, klein kindertjies en verswaktes op die eindelose woestynpad; die voortdurende opslaan en afbreek van die tente. Alles simbole van die verganklikheid en die harde werklikheid van die lewe. Ons kry die beeld van die mens se verborge sondes en ongeregtighede; God wat sy aangesig wegkeer van sy volk as gevolg van hul oortredinge; die ou mens wat sterf as hulle tagtig is en 'n jong kindjie wat afgesny word soos 'n tenger blommetjie. Ja, maar ondanks dit alles is God 'n skuilplek en tuiste vir elke siel, net soos vir die geslagte wat kom.

Sal ons nie die slotbede van hierdie Psalm ons eie maak nie? Ook ons is immers pelgrims op pad deur 'n woestynland na die ewige woning. Ons moet leer om ons dae reg te gebruik. Ons moet daarop let dat hulle min word en ons daarop toelê om die beste te haal uit wat nog oorbly. Ons moet ons elke môre vul met God se liefde en goedheid sodat dit 'n standhoudende fontein van vreugde en blydskap in ons mag wees. Laat ons die Bose oorwin, en soos ons ouer word, bid dat die lieflikheid van die Here onse God oor ons mag wees en Hy die werk van ons hande in stand sal hou!

GEBED: Hoe sal ons U genoeg dank, liewe Here, dat U die dood vernietig het en die lewe en onsterflikheid vir ons bewerk het. Gee ons die genade om U te volg, al die dae van ons lewe, en wanneer ons opgeroep word om deur die rivier te trek, die water op sy laagste sal wees! Amen.

Uit: Our Daily Walk, deur FB Meyer
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css