Die Weg

 

Die Here is altyd naby

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” - Filippense 4:4-7.

Paulus was in die gevangenis in Rome toe hy hierdie brief geskryf het. Dit is aangrypend om te lees dat iemand wat agter tralies sit, kan skryf oor blydskap en vriendelikheid: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense.

En dan sê Paulus ook verder: “Die Here is naby” (vers 5). Ek dink dit was sy groot troos in daardie donker dae van onsekerheid. In daardie tyd van beproewing het hy elke dag ondervind dat die Here naby hom is.

Paulus het nie toegelaat dat spanning en bekommernis hom neerdruk nie. Bekommernis en spanning help ons nie om ons probleme te oorkom nie. Inteendeel, dit maak ons swak en onbekwaam om ons probleme te hanteer.

As ons deur die Psalms lees, word dit vir ons duidelik watter groot troos en sekerheid dit aan die gewyde digters verskaf het om te weet dat hulle van oomblik tot oomblik in God se nabyheid geleef het. So noem Dawid die Here die skaduwee aan sy regterhand.

Die Here is naby.” Onthou dit in elke situasie van die lewe! As spanning of kommer jou wil neerdruk! As die opdraandes te steil word! As die donker van die nag nie wil wyk nie.

Die Here is naby.” Sê dit ook vir Satan as hy 'n aanslag op jou wil maak!

Gebed: Wonderlike Here, ek dank U dat ek in hierdie groot ou wêreld geen oomblik alleen is nie. Amen.

Uit: Soet Druppels, deur ds Theunis Pienaar.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css