Die Weg

 

Wanneer jy wil wegsink in die modder

Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het. Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep...” - Psalm 69:2-3 (83-vertaling).

Dawid was 'n mens met 'n veelbewoë lewe. In Psalm 69 beskryf hy homself as iemand wat besig is om in die modder weg te sink. Hy is moeg en het homself al hees geroep om hulp, maar die hulp bly uit.

In die modder en moeg. Ja, daar is baie mense wat so voel. En dan hoor ons Dawid, die vermoeide mens in die modder, bid: “Red my, o God.” Daar vanuit die modder roep Hy in die gebed na God!

Ons hoor hoe mense sê: “Ek het breekpunt bereik. Ek kan nie meer nie.” Die hoë voorkoms van geestesongesteldhede, en mense wat by die punt kom om selfmoord te pleeg, vertel die verhaal van mense in die modder.

As jy ook by daardie punt gekom het, doen wat Dawid gedoen het. Hy het na God geroep. Hy het hom beroep op God se genade, op sy liefde vir dié wat aan Hom behoort. Moet dus nie die stryd gewonne gee nie. God is die Here wat mense uitlig uit die modder. Hierdie Psalm en die hele Bybel bring die boodskap van 'n Here wat 'n Redder is vir dié wat in nood verkeer! My omstandighede, my nood en probleme is nie vir Hom onhanteerbaar nie!

“Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God.” (Ps 40:2-4).

Gebed: Ek kyk op na U, o Here, want ek het U nodig. Hou my vas en hou my staande. Amen.

Uit: Soet Druppels, deur ds Theunis Pienaar (effens aangepas).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css