Die Weg

 

Die Vervloekte Kruis

Net die feit dat Jesus gekruisig is, is 'n vervulling van die Skrifte. As ons goed oplet dan sien ons dat die Jode Jesus toe nie gestenig het, soos hulle gebruik was nie, want dit is hoe God alles beskik het. Hy moes gekruisig word sodat Hy die vloek vir ons kon dra. Dit sou nie die geval gewees het tydens steniging nie!

Reeds in Deuteronomium 21:23 word elkeen wat aan 'n boom of paal opgehang word deur God vervloek! So moes dit Skrifvervulling wees. Christus moes die vloek dra.

Die Romeine het kruisiging uitgedink en toe as vonnisvoltrekking regoor die Romeinse Ryk gebruik om vrees by mense in te boesem. Hulle kon net regeer deur vrees. Vrees is die wapen van die duiwel. God se antwoord op vrees is geloof, liefde en hoop!

Aan 'n kruis moes iemand in die openbaar hang, en so lank as moontlik ly. Meesal sonder enige klere aan. 'n Skande vir die samelewing. 'n Vreeslike lyding. Spykers deur jou gewrigte en voete, op 'n ruwe kruispaal (boomstomp), hang jy daar aan jou arms. Jy versmoor stadig. Die elemente is teen jou: son, wind en weer. Dan nog die veragting van die omstanders.

Uiteindelik die vloek. Vervloek! Verwerp! Weggestoot, uitgegooi, vergete. Soos gemors in die asblik beland, om nooit weer aan gedink te word nie. Christus ly en dra die vloek van God in ons plek. Daarom is Hy toe nie gestenig nie. Die Jode was onder Romeinse bewind en mog niemand ter dood teregstel nie. So presies het God die plaasvervangende lyde van Christus beskik en bepaal en laat gebeur.

Hy het ons vervloeking op Hom geneem, om ons met sy seën te vul (Nagmaalsformulier).

Halleluja, loof die Here!

Ds Maarten van Helden
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css