Die Weg

 

U ken my

Psalm 139 begin met die volgende woorde: "HERE, U ondersoek my en U ken my. Van ver af verstaan U wat ek in gedagte het.”

Kan ons dit regtig glo? Daar is soveel miljarde mense reeds dood en daar leef tans meer as 6 miljard - ken God ons regtig elkeen so goed? Ja, ons is genooi om diep in hierdie geloof in te beweeg. Dit is 'n sentrale deel van die boodskap van die Bybel dat God vir elke gelowige sê: “Ek het jou op jou naam geroep, jy is myne” (Jesaja 43:1).

Om goed te kan lewe is dit nodig dat ek myself al beter leer ken, maar God ken my nog beter. Ons psalm benadruk dat God ons bedoelings ken nog voor ons hulle self ken.

Hoe moet ek daaroor voel dat God my so goed ken? Baie leef met die diep, dikwels onbewuste, gevoel dat God hulle dophou en ken om hulle te beoordeel. 'n Kritiese God. Maar Jesus het ons anders geleer. Die Vader se ken van my is 'n barmhartige ken. Hy stel in my belang omdat Hy my oneindig goedgesind is. Hy voel saam met my as ek swaarkry. Hy is intens by my teenwoordig, meer as enigiemand of enigiets anders in my lewe, en doen in my lewe wat ek nodig het. Dis nie altyd die lekkerste dinge nie, want Hy het 'n groter gedagte oor my lewe as dat dit bloot 'n lekker lewe moet wees.

Dr Willem Nicol
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css