Die Weg

 

Moenie dat die loot van die wingerdstok geskei word nie

Korreksie: In die vorige boodskap (Wat die oog nie sien nie) is daar 'n sin wat lees: “As ons maar net die Bybel op 'n eenvoudige, kinderagtige manier aanvaar as die Woord van God.” Dit moes lees: “As ons maar net die Bybel op 'n eenvoudige, kinderlike manier aanvaar as die Woord van God”. Jammer vir die fout.

Daar is 'n verband tussen hierdie boodskap en die vorige.

--------

'Kyk, ek het 'n oseaan van liefde en lig gesien; dit het 'n oseaan van duisternis en dood oorstroom. Daarin het ek die oneindige liefde van God gesien. Die dag toe dit oor die oseaan van duisternis en dood gevloei het, was toe Jesus gesê het: “Dit is volbring!”' (John Wesley).

Oral in Duitsland vind ek die wonde en littekens van die oorlog. Ek lees 'n brief wat 'n moeder van haar seun Karl,  'n gevangene in Nederland, ontvang het. Hy was 'n tronkbewaarder gedurende die oorlog en is tot sestien jaar gevangenisstraf gevonnis in dieselfde tronk waar hy sy wreedhede uitgeoefen het. Hy skryf: “Vader, Moeder, ek het die Here Jesus aangeneem as my Verlosser. Hy het my 'n kind van God gemaak. Ek het al my sondes na Hom gebring, en Hy het dit in die dieptes van die see gewerp.”

Nadat ek die brief gelees het, besluit ek om amnestie vir hom by my koningin aan te vra. 'n Kind van God het krag vir sy stryd teen Satan. Hy het die gesag van Jesus se Naam. Net soos 'n polisieman in sy werk deur die gesag van die wet gesteun word, moet Satan ook toegee aan die Naam van Jesus. Elke kind van God kan hom beroep op die gesag van dié Naam wat bo alle ander name staan. Daarom vertrou ek vir Karl.

Voordat ek die brief aan die koningin skryf, besluit ek om Karl in Vught te gaan te besoek [Vught was die kamp waar Corrie en haar suster aangehou is voordat hulle na Ravensbrück oorgeplaas is]. Weer 'n keer sien ek die binnehof waar ek en Betsie gestaan het, sonder dat ons geweet het wat nog vir ons sou voorlê. Daardié tyd het ons tussen rye mans gestaan wat vir ons gesê het dat ons moontlik geskiet sou word. Ek bewe wanneer ek hierdie plek weer sien. Dan stap ek die sel van Karl binne, my voormalige tronkbewaarder.

“Karl, ek kom om vir jou groete van jou ouers te bring.”

“Bedoel jy om te sê dat jy hulle gesien het?”

“Beslis; ek is pas terug uit Duitsland.” Karl se oë skiet vol trane, en hy fluister: “Hoe gaan dit met Moeder?”

“Dit gaan goed met haar, Karl, en sy is so bly dat jy jou na Jesus gewend het en nou 'n kind van God is.” Ek beskryf my besoek aan sy ouers en vriende, en voeg toe by: “Ek was ook 'n gevangene in hierdie plek.”

“Jy was? Wanneer?”

“In 1944.”  Karl se gesig word bleek. “Dan ken ons mekaar.”

“Ja, ons ken mekaar.” Ons onthou albei Karl se wreedhede van daardie dae, maar sy gesig verhelder as hy sê:  “Hoe bly is ek dat my sondes weggeneem is.”

Ek sê niks, maar 'n donker gedagte kom in my siel op: is dit so maklik? Deur jou barbaarsheid en die wreedhede van ander, het my vader, my suster Betsie, my neef Kik en baie ander van my vriende in die konsentrasiekampe omgekom. Maar jy sê jy is nie langer skuldig nie!

Dit is 'n vasstaande wet van God dat die mens eers vrede vind as hy bereid is om herhaaldelik te vergewe. Onmiddelik sien ek wat ek doen. Karl se sondes is deur Jesus in die diepte van die see gewerp. Hulle is vergewe en vergeet - en ek probeer hulle weer opvis! Ek bid: “Vader, vergewe hierdie gedagtes in Jesus se naam. Here Jesus, hou my naby U, omdat die loot naby die wingerdstok moet wees, sodat ek my vyande kan vergewe en hulle oortredinge vergeet.”

Nou eers vertrou ek myself om weer te praat. “Inderdaad Karl, jou sondes is weggeneem. Ons Here het self die sondes van die hele wêreld op Hom geneem, insluitende joune en myne. Maar ek het nog iets om jou te vertel. Ek beplan om aan die koningin te skryf en amnestie vir jou te vra.”

'n Les kan geleer word uit Karl se sel. Wanneer Jesus eis dat ons ons vyande moet liefhê, gee Hy aan ons die liefde wat Hy van ons eis. Ons is die kanale van sy liefde, nie opgaartenks nie. Waarlik, as ek 'n opgaartenk was, sou ek op daardie oomblik 'n groot lek gehad het en al die liefde sou weggespoel het.

Weer gee my Amerikaanse spoorwegkaartjie die antwoord: “Not good if detached.” Dit is ek! Ek het losgeraak. Maar as ek verenig is met Hom wat aan die kruis gebid het, “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” kan ek vergewe en vergeet, en selfs my vyande liefhê. Sonder Hom is ek verbitterd en is ek geneig om te haat. Daarom wil ek soos nooit tevore altyd naby Hom bly, soos die loot aan die wingerdstok: “sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” (Joh 15:11). Sodra ons leer om ons vyande lief te hê, tap ons van die oseaan van God se liefde soos nooit tevore nie.

Uit: Not Good if Detached, deur Corrie ten Boom

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css