Die Weg

 

Die krag van die gebed (2)

“Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE!” - Psalm 27:8 (83 -vertaling).

My hart eggo u woorde: 'Julle moet my teenwoordigheid opsoek!' U teenwoordigheid, HERE, soek ek op.” - Psalm 27:8 (2020 vertaling).

Dit is ondenkbaar dat 'n Christen nie sal bid nie. Sonder gebed is daar geen saligmakende genade nie. Die eerste teken van lewe is wanneer 'n babatjie begin asemhaal. Die eerste teken dat 'n mens sy nuwe lewe in Christus ontvang het, is dat hy begin bid. Saulus van Tarsus kon dalk baie gebid het voordat hy Christus ontmoet het, maar toe hy deur Christus tot die werklike lewe geroep is, het God uit die hoogte gespreek: “Kyk, hy bid.” (Hand 9:11).

Gelukkig is hulle wat hulle hele hart voor God kan uitstort; wat in ootmoed en in vertroue alles wat druk en dreig, alles wat gevrees, verlang, betreur en gehoop word aan Hom kan oordra! Kyk, vir hulle kom daar 'n vrede in die hart wat nie weggeneem kan word nie. Die gebed is vir hulle die toevlug in nood, hul krag in swakheid, hul wapenrusting in die stryd, hul troos in smart; die vleuels waarop hulle tot God in die hoogte nader.

Hoedanig is die aard van die gebed?

Die gebed moet in alle opregtheid gebid word. Daarom sê Dawid: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie.” (Ps 32:5; 53-vertaling).

As jy bid, dan moet dit wees in geloof, want om te twyfel is soos om deur die branders van die see rondgeslinger te word:  “'n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.” (Jak 1:6). Immers, as jy tot God nader moet jy glo dat Hy 'n beloner is vir dié wat Hom soek.

Die gebed moet alleen wees na die wil van God – vol van liefde, want wie kan tot God bid as hy vol bitterheid teenoor 'n ander is (Mark 11:25); ootmoedig en nederig, want God weerstaan die hoogmoedige (Ps 138:6); vol dankbaarheid, want hoe sou jy anders tot jou Weldoener in die hemel toetree? (1 Tess 5:18).

Ons kan dit soos volg opsom: ons moet, as ons bid, ons na siel en liggaam, met ons hele wese, tot God skik en rig. Die ware bidder verhef homself bo alles wat aards is en klim op na die hemel. 'n Egte gebed is 'n hemelvaart. Jou hele wese met alles moet gerig wees op die Één wat in die hemel troon, die Here van die heerlikheid. Alles wat in stryd is daarmee, wat ons daarvan wegtrek, moet tersyde gelê word. Maar helaas, daar lê op ons vlerke soveel stof van aardsgesindheid dat dit ons vlug na die hemel bemoeilik, en soms onmoontlik maak.

Daarby leef ons in 'n tyd waarin die lewe al hoe meer verwêreldlik en die tyd ontbreek om gemeenskap met God te beoefen. Daar is geen ander gebied waarin die kinders van die hede nog vreemdelinge wil wees nie. Dit is alleen in die binnekamer van die hart waar die mens al hoe meer vreemdelinge word, en méér só dat 'n mens na die stem van die gebed nie meer luister nie.

Ons het die voorreg dat dit ons nie ontbreek aan die Gees van genade nie en dat Hyself vir ons in sy Woord duidelik maak hoe ons moet bid. Ons moet bly by dít wat Hy vir ons in sy Woord leer.

Uit: In de oefenschool des gebeds, deur ds Js. Van der Linden (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css