Die Weg

 

Die brug huistoe

Die mens is nou eenmaal aan die tyd gebonde. Dit word dikwels vergelyk met 'n stroom water wat onder 'n brug deurvloei. En waar ek hier op die brug staan en na die vloeiende water daaronder kyk, kan ek dit my inbeeld as die “stroom van die tyd”. Kom die tyd nie net so uit die toekoms en vloei weg in die verlede nie? Op hierdie oomblik wat ek afkyk, beleef ek daardie besonderse nou tussen die toekoms en die verlede. En ek ervaar die diepe vrede wat spruit uit die skoonheid en krag van hierdie stroom, maar tegelyk tog ook die heimlike wete dat alles wat beweeg eenmaal tot rus sal moet kom.

Die gedagte kom by my op dat die plek waar ek staan 'n brug oor 'n stroom is; dat  die stroom sterk is en dat ek sonder hierdie brug nie die ander kant sal bereik nie; dat daar vir my geen ander weg is as oor hierdie smal oorgang nie. Dit is net hierdie brug wat my oor die stroom sal bring.

Ons leef almal langs 'n groot rivier wat ons eendag sal moet oorsteek. Sal die stroom ons dan meesleur om in die dooie, strakke niet te verdwyn, óf sal daar vir ons 'n brug wees sodat ons die oorkantse oewer veilig kan bereik? Sal ons dáár dan 'n nuwe soort hede betree waarvan ons die kalmte en onverstoorbaarheid as “ewigheid” kan beskryf? Iets wat vir ons so heeltemal ondenkbaar lyk solank ons op hierdie aarde is.

Die weg na ons ewige tuiste is baie keer as 'n weg oor 'n brug voorgestel. Ons sit ons voet op die brug tussen die verbygaande lewe en die dood. En as ons daaroor stap gaan ons oor die grens tussen die dood en die vaste grond van 'n nuwe lewe. Die geloof sien in die sterwe 'n tuiskoms. “In die huis van my Vader is daar baie wonings”, sê Jesus. “Ek gaan om vir julle plek te berei.” As ons hierdie grens bereik, neem ons niks saam nie, behalwe ons geloof en net 'n eenvoudige beeld uit die wêreld waaruit ons kom: 'n brug oor 'n stroom.

**

Here, Skepper van die tyd,
ek wil nie van die weg afwyk nie.
Ek weet dat ek my doel nader,
dat die aardse karnaval 'n einde het,
en ek oplaas 'n brug nodig het
wat my oor die groot stroom sal moet bring
na die ander oewer, waar U my sal ontvang.

Niks Here, God van die Ewigheid,
sal ek kan saamneem nie,
niks wat ek besit, niks wat vertroud is nie.
Help my om te doen wat werklik nodig is:
dat ek alle laste van my sal afwerp,
dat ek my hart aan niks sal heg
wat ek tog nie kan behou nie,
en nie sal opgaar wat ek nie nodig het nie,
sodat ek die laaste tree
met 'n vrye hart kan gee.

Maar my hart is ook geheg aan mense.
En dit is goed, U het dit self so beskik.
Ek is lief vir hulle en wil hulle nie laat los nie,
ook nie by my laaste tree nie.
Daarom gee ek hulle aan U oor
wanneer ek hulle nie meer kan vashou nie.
Bewaar U hulle wanneer die tyd vir my gekom het.

Here, U self is die brug.
Ek gaan met huiwering die weg,
maar ek vertrou op U
dat U my sal lei en dra.
Ek weet nie of dit maklik of moeilik sal wees
om die oorgang te maak nie.
Maar ek hoef nie bang te wees nie,
want ek vertrou op U.
Amen

Uit: Wie wir beten Können, deur Jörg Zink
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css