Die Weg

 

Lewegewende water (1) - van profesie tot Pinkster

'Die man het my teruggeneem na die ingang van die tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk. water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek - water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek - water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek - water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet - 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg - water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?”' - Esegiël 47:1-6 (2020 vertaling).

In hierdie visioen sien Esegiël hoe water uit die heiligdom uitstroom om uiteindelik in die Dooie See in te loop. Die lewegewende water maak die “siek” water van die Dooie See, wat net die dood tot gevolg het, “gesond”.

Dit is niks buitengewoon dat daar water in die tempel was nie. Daar was immers by die ou tempel 'n tempelrivier, wat uit 'n fontein in Sion ontspring en na die Jordaandal weggestroom het. Afgesien daarvan het die Israeliete nie vir hulle 'n tempel kon indink sonder vywers met heilige water nie: hoe sou die “groot fees” waarvan Johannes praat (Joh 7:37-38),  gewees het sonder die water van die Siloam-vywer en hoe sou Jesaja kon profeteer: “En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” (Jes 12:3).

Dit is egter nie net die wonderbaarlike toename van die tempelwater in Esegiël se visioen, wat dit so merkwaardig gemaak het nie – hoe verder die profeet gegaan het, hoe dieper het die water geword -  maar ook die seën wat hierdie water versprei het. Dit het nuwe lewe gegee aan alles waarmee dit in aanraking gekom het.

Wat het hierdie visioen ingehou?

Die nuwe Godsryk, wat deur die nuwe tempel in Esegiël se visioen versinnebeeld word, sal verder strek as net die tempel in Jerusalem. Dit sal sy invloed kragtig na buite laat geld.  Daar sit stukrag en groeikrag in. Ons moet Esegiël se visioen van die seëndraende tempelrivier plaas naas die woorde van die Here Jesus waar Hy die koninkryk van die hemel beskryf as suurdeeg wat alles deursuur, of soos 'n mosterdsaad wat van 'n klein begin uitgroei tot 'n boom waarin die voëls van die hemel hul neste maak. Daarby kom ook dat die mense nou nie meer na die tempel hoef te gaan om in die heerlikheid van die Here te deel nie, maar dat die tempel, om dit so te stel, afdaal na die mense (vgl 1 Kor 6:19, 2 Kor 6:16, Ef 2:21-22, Openb 21:3). Hierdie stromende water is beskikbaar vir almal, veral vir hulle wat in ellende en verlatenheid verkeer.

Hierdie tempelvisioen van die water uit die heiligdom was eerstens om die ballinge in die tyd van Esegiël te bemoedig. Hulle het in hul moedeloosheid gedink dat dit met die volk van God verby was: die klein klompie ballinge in Babel was maar 'n armsalige oorblyfsel wat spoedig heeltemal sou verdwyn .... die stroom het in die sand doodgeloop.

Maar nou laat die profeet hulle sien dat God dit in sy Raad anders beskik het. Dit kon dalk vir hulle voorgekom het dat die werk van God misluk het. Maar die Here sou al die feite wat hulle voor oë gehad het, weerspreek. Hy sou wondere doen op die wondere wat verkondig is. Die koninkryk van God sal, in plaas van om dood te loop in die hopeloosheid van die ballingskap, juis op 'n ongewone snelle wyse uitbrei ... die lewende water.

Die Christus het gekom en Hy het as vrug van sy versoeningswerk die stroom van die Heilige Gees laat ontspring in die binneste heiligdom van die hemel, en (met Pinkster) uitgegiet op alle vlees: presies soos die water uit Esegiël se heiligdom-visioen voortgekom het. Vanuit Jerusalem is die heil van Christus die wêreld ingedra en die Gees van die Here het deur middel van die verkondiging van die evangelie herskeppend en seënend ingewerk in die “Dooie See” van mense harte, by dié wat hulle vir Hom oopgestel het (vgl Joh 4:14).

Hiermee is die algemene sin van die visioen heel duidelik. Ons sal vervolgens noulettend kyk na die wonderbaarlike toename in hierdie water uit die heiligdom.

(Word vervolg).

Uit: De Balling van de Kabaroe, deur ds H Veldkamp (verkort en effens verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css