Die Weg

 

Lewegewende water (2) – die profesie vervul

(Lees saam met die vorige)

'Die man het my teruggeneem na die ingang van die tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk. water het uitgeborrel aan die regterkant. Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek - water wat enkeldiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek - water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek - water wat heupdiep was. Hy het nog 'n duisend afgemeet - 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg - water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?”' - Esegiël 47:1-6 (2020 vertaling).

Die water in Esegiël se visioen het ongekend snel vermeerder. Aanvanklik was dit net enkeldiep, en hoe verder dit gevloei het, hoe dieper het dit geword: eers enkeldiep, dan kniediep, dan heupdiep, en na 'n betreklike kort afstand het dit so diep geword dat dit bo-oor 'n mens se kop sou wees.

Ons weet nie hoe dit verder met die water gegaan het nie. Ons kan maar net vermoed hoe onpeilbaar diep dit geword het toe dit uiteindelik die Dooie See ingevloei het. Ons hoef dit ook nie te weet nie. Dit was voldoende dat hy gesê het dat daar groei en diepte in God se water was. Hoe diep kan geen mens weet of peil nie: onpeilbaar diep is God se gedagtes, want wat Hy doen oortref al wat ons ken en dink. “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.” (Jes 55:8), “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Ef 3:20). “Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?” (Jer 32:27).

Esegiël moes verbaas gewees het oor hierdie stroom water. Dit was ongewoon vir 'n land soos Palestina. Die reël is immers dat hoe verder 'n mens van die bron wegbeweeg, hoe vlakker die water word, totdat die beek uiteindelik heeltemal opdroog. Wat Esegiël hier gesien het, was dus abnormaal.

Dit is dan ook die stroom van God se Gees wat Hom nie voeg by die wette van die natuur nie, maar bonatuurlik is en daarom ook 'n bonatuurlike uitkoms het.

Die Gees maak 'n mens ook anders, ongewoon, bonatuurlik, omdat juis die “natuurlike” mens nie die dinge van die Gees van God verstaan nie. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor 2:14; 53-vertaling).

Die geskiedenis van die kerk van die Nuwe Testament is 'n treffende vervulling van hierdie profesie van Esegiël. Toe die water van die Gees op Pinksterdag uit die hemelse tempel gekom het, was daar 'n skare van ongeveer 120, 'n handjievol mense ... die water het tot by die enkels gereik.

Maar dit het nie lank geduur nie of daar is op één dag drieduisend by die gemeente gevoeg wat salig geword het (Hand 2:41) .... die water het tot by die knieë gekom. Iets later het die gemeente deur geheel Judea, Galilea en Samaria gegroei en in getalle toegeneem (Hand 9:31) .... die water het tot by die heupe gestyg. Later het die stroom hom gebaan vanuit die Joodse land na Klein-Asië en vandaar na Europa. Stad na stad en land na land het voor die banier van die kruis gebuig. Dit het 'n rivier geword waardeur 'n mens nie kon loop nie, want die water het bo-oor die kop gegaan!

Dit was met die stroom van die Gees inderdaad net só as wat Esegiël dit in sy visioen gesien het.

(word vervolg)

Uit: De Balling van de Kabaroe, deur ds H Veldkamp (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css