Die Weg

 

Lewegewende water (3) – bring lewe waar alles dood is

(Lees saam met die vorige)

... Alles sal leef waar die stroom kom” - Esegiël 47:9b.

Daar is nog iets heel besonders aan die water wat uit die tempel vloei. Afgesien daarvan dat die water wonderbaarlik vermeerder het, was dit opvallend hoeveel genesende en lewegewende krag in hierdie stroom geskuil het.

Die gebied tussen Jerusalem en die Dooie See – die streek waardeur die tempelrivier sy weg gebaan het – is 'n uitgestrekte dorre en dooie vlakte. Toe Esegiël en sy metgesel daarheen afgedaal het, het hy geen boom gesien nie. Op hul terugtog was dit egter heel anders. Tot sy groot verbasing het die landskap totaal verander.

Aan beide kante van die beek het nou bome gegroei met hul breë krone wuiwend in die wind. Beter bewys van die vernuwende krag wat in hierdie water geskuil het, was daar nie! 'n Gedaanteverwisseling het plaasgevind in alles waarmee die heilige water vanuit die tempel in aanraking gekom het, ook die water van die Dooie See self.

Die Dooie See het sy naam met reg gedra, want dit was, om dit so te stel, die doderyk self. Dit lyk wel asof dit nog steeds die vloek van God oor die goddeloosheid van Sodom en Gomorra dra. Hierdie poel was dus 'n poel van dood en verderf. Maar nou het daar vernuwing plaasgevind.

Die water uit die tempel het sy weg gebaan na die Dooie See, en  ... dan gebeur presies die teenoorgestelde van wat vroeër met die water van die Jordaan en die Kison gebeur het toe dit met die water van die Dooie See in aanraking gekom het. Vir dáárdie water was dit noodlottig: dit is vergiftig deur die invloed van die chloor-magnesiumwater van die Dooie See en was nie meer lewegewend nie. Maar die tempelrivier daarenteen was immuun teen die doodsheid van die Dooie See!  Die water van die tempelrivier is nie deur die Dooie See se water besmet nie. Dit het die krag gehad om die soutwater te verander, en nie alleen drinkbaar nie, maar ook vrugbaar te maak. Wat eens die dood meegebring het, het nou 'n fontein van heil geword. Bomenslike kragte het die onmoontlike laat geskied. Waar die verderf voorheen sy septer geswaai het, het nou nuwe lewe ontwaak en ontkiem. Die tempelwater triomfeer oor die dood. Daar het beweging in die water gekom: 'n oorvloed van groot en klein visse het hulle verskyning gemaak. Die eertydse verlate strand het oor die ganse lengte vanaf En-Gedi tot En-Eglaim 'n oord geword waar mense hul nette uitgesprei het. Dit het gewys op die nuwe welvaart wat daar ontstaan het. In die “dooie stede” rondom die Dooie See het 'n nuwe, ongekende bedrywigheid ontstaan. En waar vroeër net doodse stilte geheers het, het nou 'n nuwe lewe geklop en gesing.

Ook die kaal berghange rondom die Dooie See het 'n metamorfose ondergaan. Nadat die water gesond geword het, het ook die vrugtebome begin groei, waarvan die blare nie verwelk nie en selfs geneeskragtig is. En dit bring ook nie net eenmaal per jaar hul vrugte voort nie, maar elke maand. Dit het 'n ware towertuin geword nadat die graf van die Dooie See tot 'n bloeiende paradys herskep is! Dít het die geneeskragtige water uit die heiligdom gedoen!

Sien jy die verband tussen die tempelrivier in Esegiël se visioen en die werking van die Heilige Gees? Wat Esegiël hier in sy visioen gesien het, het nog veel meer heerlike werklikheid geword toe die Evangelie vanuit Jerusalem na die doodsheid van die volkesee gestuur is.

(word vervolg)

Uit: De Balling van de Kabaroe, deur ds H Veldkamp (verkort en effens verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css